NEHEMIA – MOED (1)

Nehemia – Moed (1)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Ons kom nou by die derde kenmerk van ‘n leier: Moed.

 

Kenmerk #3: Moed – verstewig jou leierskap

Maar dié dag sê die koning vir my: “Hoekom lyk jy so bedruk? Is jy dalk siek? Nie? Hartseer dan?” Ek was baie bang (Nehemia 2:2)

 

Die koning kom agter dat daar iets met sy skinker verkeerd is. Hy wil weet wat is verkeerd. Nehemia se reaksie: Ek was baie bang. Hy besef sy lewe kan in gevaar wees. Nou moet hy sy woorde versigtig kies.

 

Moed is vrees onder beheer

Moed is nie die afwesigheid van vrees nie – dit is om daarop op ‘n toepaslike manier te reageer. Vrees is nie ‘n slegte ding nie. God gebruik vrees om te verseker ons tree versigtig op. Dit help ons om vinnig te besluit en te soek vir oplossings. Moed ignoreer nie vrees nie – dit evalueer die oorsaak van die vrees en bepaal hoe om vorentoe te beweeg. Moed is nie domastrantheid nie. Moed mag beteken dat ons terugtrek om ‘n ander dag te baklei.

 

Leiers moet moed hê

Courage is contagious. When a brave man takes a stand, the spines of others are stiffened (Billy Graham).

Moed in ‘n leier maak dat ander hom wil volg. Die moed van ‘n leier word sigbaar as hy voor onaangename situasies te staan kom en hy met oortuiging optree; ferm optrede ten spyte van uitdagings al mag dit lei tot swaarkry as gevolg van die besluit. Leiers is bereid om ongewilde besluite te neem.

 

Moed in die lewe van …

Luther was ‘n man van moed. Toe hy op pad na Worms – die stad waar hy verhoor sou word – is, sê hy: You can expect from me everything save fear or recantation. I shall not flee, much less recant.

 

Maklik om te sê dat leiers moed moet hê, maar hoekom kan Christenleiers altyd moed hê. Daarna gaan ons volgende keer kyk.