NEHEMIA – MOTIVERING (3)

When money speaks, the truth keeps silent. –Russiese Spreekwoord

Nehemia – Motivering (3)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #6: Motivering

 

Lesse van motivering

Nehemia het sterk in die opbou van Jerusalem en die welstand van sy mense geglo. Hy kry mense om by hom aan te sluit vir die saak wat hy bevorder. Wat leer ons by hom?

 

  • Motivering begin by jou. As jy opgewonde is, sal ander ook opgewonde wees; as jy ‘n positiewe siening en gesindheid het, sal ander by jou aansluit. As jy vertroue uitstraal, sal ander ook vertroue hê om jou te volg.
  • Motivering kom van binne. As mense jou visie aanvaar en jou saak internaliseer, sal hulle gemotiveer bly al raak dinge moeilik.
  • Motivering beskryf geleenthede. Die moeilikheidsgraad van die projek en die opofferings wat mense sou moet maak, het Nehemia nie ontmoedig nie. Hulle het in ieder geval niks gevorder oor 90 jaar nie. Hy rig hulle oë op die toekoms. Hy help hulle om oplossings en nie probleme nie te sien.
  • Motivering skep ‘n behoefte vir verandering. ‘n Wyse leier weet wanneer om sy mense uit die status quo te beweeg na ‘n nuwe oplossing. Nehemia wys hulle op hulle haglike toestand; hy wys vir hulle dat verandering noodsaaklik is; hy mobiliseer almal om die muur te herbou en so hulle nasionale trots te herwin.
  • Motivering ontdek hulpbronne. Die hoe is belangrik, want tydens hierdie fase kry ons algemeen frustrasie en ontmoediging. As jy mense motiveer moet jy sorg dat hulle die werk kan doen.
  • Motivering brei jou leierskap uit. Een persoon, al is hy hoe doeltreffend en kundig en bekwaam, is steeds net een persoon. Hy het hulp nodig. Watter soort hulp? Motivering laat mense vlam vat. Hulle word ‘n lewenskragtige mag wat saam werk om ‘n visie te vervul. As jy nie ander kan motiveer nie, is dit twyfelagtig of jy ‘n goeie leier kan wees.

Nehemia stuur die mense van Jerusalem weg van hulle vrese en na die Here toe. Hy vestig hulle oë op God en wat Hy besig is om vir hulle te doen. Vir 90 jaar kon hulle niks regkry nie. Nehemia raak hulle harte aan  en gee hulle ‘n rede om sterk te wees. Die mense verenig en begin bou. Hulle gaan oor tot aksie, want hulle glo dat hulle dit kan doen.

 

Volgende keer begin ons met die sewende kenmerk van ‘n leier – delegering.