NEHEMIA – PROBLEEMOPLOSSING (3)

He who does not think of the world to come, he who is a Christian for any other reason than that he may receive God’s ultimate promises, is not yet a Christian. Augustinus

 

Nehemia – Probleemoplossing (3)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Kenmerk #9: Probleemoplossing … verfyn jou leierskap

Die verkeerde manier om ‘n probleem te hanteer

Aäron is ‘n goeie voorbeeld van hoe om nie ‘n probleem te hanteer nie.

Terwyl Moses op Sinai-berg was om die tien gebooie te ontvang, was Aäron in bevel van die Israeliete. Moses was 40 dae weg en die mense raak ongeduldig met God wat hulle nie kon sien nie. Hulle vra vir Aäron om vir hulle ‘n god te maak, want Moses talm om terug te kom (Eksodus 32). Hulle wil ‘n god hê wat hulle kon sien.

 

Aäron was onwillig om die probleem op te los – hy probeer nie eers die mense oortuig dat om ‘n afgod te maak nie ‘n goeie idee was nie. Hy gee toe aan hulle versoek. Dikwels is die maklikste oplossing die verkeerde oplossing. Aäron vra die volk om hulle goue oorringe af te haal en vir hom te bring. Aäron verwerk dit en maak daarvan ‘n beeld in die vorm van ‘n bulkalf. Aäron se oplossing was onverantwoordelik – dié van ‘n lafaard. Die gevolg is dat duisende mense sterf in God se oordeel.

 

Wat leer ons van Aäron? Elke probleem moet versigtig, maar met moed hanteer word. Wat na ‘n klein probleempie lyk, kan maklik ‘n krisis word.

 

Die leier en probleemoplossing

Probleemoplossing is een van die moeilikste take wat ‘n leier moet hanteer. Elke probleem is uniek.  Hoe ontwikkel ek goeie vaardighede om probleme op te los?

 

Beskou elke probleem as ‘n geleentheid.

Probleme is die prys wat ons moet betaal vir vooruitgang. As jy probleme as geleenthede sien, sal jy hulle as groeigeleenthede beskou. Probleme gee aan jou die geleentheid om jou vaardighede as leier te slyp. Probleme is ook geleenthede om jou geloof en vertroue in God te demonstreer.

 

Erken die probleem

Baie min probleme gaan sommer weg. Erken daar is ‘n probleem en begin onmiddellik soek na ‘n oplossing.

 

Definieer die probleem

Jou doel is om die probleem op te los – nie om mense gelukkig te hou nie. Moenie dat die mense wat die probleem veroorsaak jou intimideer nie. Dit gaan nie oor die maklikste uitweg nie, maar oor die waarheid. As jy die werklike feite geïdentifiseer het, kan jy na ‘n oplossing begin soek. A problem defined is half solved. Oppas: jy mag dalk uitvind dat jy die probleem is!

 

Ontwikkel oplossings vir die probleem

 As jy weet wat die oorsaak van die probleem is, kan jy begin kyk na ‘n oplossing – watter stappe moet geneem word om die probleem op te los. Soek die advies van ander wat min of meer dieselfde probleme moes hanteer het.

 

Los die probleem op

Klink maklik, maar jy sal nie slaag voor jy in gebed deur die proses geloop het nie – wat is die regte stappe om te neem. Kyk na die gevolge van elke moontlike oplossing voor jy finaal besluit.

 

‘n Leier definieer homself deur sy vermoë om probleme op te los – is hy gewillig om sy moue op te rol en in die loopgraaf te klim en die moeilike probleme aan te pak? Hoe moeiliker die probleem, hoe meer moet die leier betrokke wees. Jy kan nie alle probleme vermy … of delegeer nie. Onthou dat God die groot probleemoplosser is. Daarom is gebed so belangrik as ons probleme oplos.

 

Volgende keer kyk ons na die tiende kenmerk van ‘n leier: konflikbestuur.