NEHEMIA – WYSHEID (1)

There is dust enough on some of your Bibles to write ‘damnation’ with your fingers. — Charles Spurgeon

 

Nehemia – Wysheid (1)

Daar is al heelwat boeke oor Nehemia as leier geskryf. Nou het nog ‘n nuwe boek verskyn: Leader after God’s own Heart deur Jim George (2012). Kom ons kyk na sekere aspekte van Nehemia se leierskap.

 

Ons kyk nou na die vierde eienskap van ‘n leier – wysheid.

 

Kenmerk #4: Wysheid … bevorder jou leierskap

“As die koning dit goedvind, as u dienaar op u goedgesindheid mag reken, stuur my na Juda toe, na die stad waar my voorvaders begrawe is, sodat ek die stad kan herbou.”… Hy was die saak dus goedgesind (Nehemia 2:5 – 6)

 

Drama en groot spanning. Vir drie maande lank het Nehemia gebid; hy soek ‘n oplossing vir die probleem van God se mense. Geduldig en doelgerig berei hy hom vir die regte oomblik voor. Maar toe Nehemia die regte oomblik sien, gryp hy dit aan.

 

Wysheid gebeur nie sommer nie

Dit vereis tyd en energie; probeer en misluk. Kan ons nie maar hierdie probeer en misluk fase uitskakel nie? Dit is juis wat God vir ons wil doen. As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt (Jakobus 1:5).

 

Hoe moet ons wysheid verstaan?

  • Die bron van wysheid is God

Alles begin iewers – dit het ‘n bron. God is die enigste uitsondering. Hy is die bron van alles. Genesis 1 sê dat Hy die Bron van die heelal is. God is ook die bron van wysheid: Jy, Esra, moet volgens die wysheid waaroor jy beskik soos dit jou deur God gegee word … (Esra 7:25). God se wysheid kry Hy van niemand nie: Sou iemand vir God iets kon leer (Job 21:22). Alle ware wysheid kan ons net by Hom kry. As jy wysheid kortkom, kyk na God en sy woord.

 

  • Wysheid is meer as kennis

Jy het nie formele opleiding nodig om die wysheid van God in sy woord te gebruik nie. Wysheid laat jou helder dink en daarom kan jy die beste besluite, selfs in moeilike situasies, maak.

 

  • Wysheid is beskikbaar

God het wysheid belowe (Jakobus 1:5). Dit is ‘n belofte – jy moet net daarvoor vra en Hy sal dit gee.

 

  • Wysheid word vryelik gegee

Probeer ‘n lening by die bank kry – ‘n nagmerrie. God se reaksie is net die teenoorgestelde. Hy gee sonder voorbehoud en verwyt. Jy staan nie in ‘n tou om dit te ontvang nie. Hy gee vryelik en oorvloedig.

 

  • Wysheid kom op ‘n verskeidenheid maniere

Watter sytakke voer God in jou lewe om jou meer volwasse/wyser te maak?

  • Jou wandel met God. Soos jy saam met Hom loop en Hom volg, word jy meer bewus van Hom. Kennis begin met die dien van die Here (Spreuke 1:7). Soos jy Hom eer en sy woord gehoorsaam, word sy wysheid jou wysheid. Dit is joune as jy toelaat dat Hy die beherende invloed in jou lewe is.
  • Die tyd wat jy in God se woord deurbring. U gebooie gee my meer insig as wat my vyande het, en is altyd by my. … Ek het meer insig as ouer mense, want ek gehoorsaam u bevele (Psalm 119:98 – 100).
  • Insette van ander. Soek wysheid by mense wat wys is. Kyk na hulle lewens, vra vrae vir hulle, lees wat hulle geskryf het. So groei jy in wysheid. Hier speel mentors ook ‘n groot rol.

 

Maar wat kan ek doen om ‘n wyse leier te word? Volgende keer kyk ons daarna.