Om die Bybel as towerspreuk aan te wend is heidens – Kobus Kok

Inleiding:

Op Radio Kansel se Brandpunt program (06:30-07:00 op 19 Junie 2015) het prof Hennie Stander, ek en Wynand Rossouw ʼn baie interessante gesprek gehad. Dit gebeur dikwels dat goeie Christene die Bybel amper soos ‘n towerspreuk aanwend. Mense sal byvoorbeeld sê: “Ek beroep my op Psalm 91”, en dan bedoel hulle dat God hulle moet beskerm. Of mense plak die teks op hulle karre in die hoop dat hulle nie in ʼn ongeluk sal kom nie of dat die motor nie gesteel sal word nie. Is dit werklik hoe die Bybel bedoel was om gebruik te word? Neig dit nie aan heidense gebruike nie? Die antwoord is “ja”, dit is baie gevaarlik indien ons die Bybel wil gebruik soos ʼn towerspreuk asof daar een of ander krag in die Bybelse verse lê. Mense manipuleer ook dikwels die Bybel om eerder hulle stem en wens te laat hoor as die van God. Onlangs het ek dit eerstehands in ʼn baie sensitiewe situasie beleef. Een van ons goeie vriende se kind het skielik siek geword met Kinkhoes. Uiteindelik is die kindjie opgeneem in die ICU. ʼn Whatsapp groep is gestig en mense het met die beste bedoelings probeer om ons vriende by te staan. In die proses het allerlei tekste links en reg gevlieg. Sommiges het gesê dat die ouers nie bekommerd moet wees nie want die Here het hulle gewys dat Hy die kindjie gesond sal maak. Maar dit het nie gebeur nie. Een dag voor sy eerste verjaarsdag het die kindjie in die hospitaal gesterf. Die ouers is stukkend. Die mense wat die tekste gestuur het voel sleg. Ons almal voel ontbloot en verslaan.

Soms projekteer ons ons ons eie wense op ander mense, en dan dink ons dit is die stem van die Here. Die hartseer is dat ons dikwels slagoffers in die proses skep. So het een ma op ʼn dag vir my vertel dat ʼn pastoor vir haar vertel het dat haar kindjie sieklik is as gevolg van ʼn sonde wat sy begaan het, en daarby ook ʼn teks aangehaal het om sy punt te ondersteun. Dit is nie wat die Here van ons vra nie.

Lees die Bybel altyd in konteks

Het iemand jou al ooit buite konteks aangehaal? Dit gebeur soms dat mense iets wat jy sê uit verband of uit konteks aanhaal, en dan voel mens die behoefte om vir die persoon te sê: “Nee, wat ek eintlik bedoel het was…” Net so dink ek sou ou arme Paulus ook vir ʼn klomp van ons wou kom sê: “Nee, wag, wat jy nou met Romeine 8:28 doen is nie heeltemal wat ek bedoel het daarmee nie. Ons pluk al te maklik ʼn versie hier en ʼn versie daar uit die Bybel en kies dit op so ʼn wyse dat dit eintlik in ons eie raamwerk inpas. Die waarheid is egter dat Paulus byvoorbeeld, sy brief aan die Galasiërs of sy brief aan die Romeine aan ʼn spesifieke groep mense gerig het na aanleiding van en in die konteks van ʼn bepaalde situasie. Konteks is baie belangrik om werklik tot verstaan te kom. Ek lees nou die dag dat ʼn kommunikasiekundige skryf dat tot 80% van kommunikasie tussen mense in die dampkring van die konteks plaasvind, met ander woorde, die atmosfeer waarin iets gesê is, die nie-verbale kommunikasie tussen die sender en die ontvanger van ʼn boodskap. Kom ons verduidelik dit bietjie deur die volgende voorbeeld te gebruik:

Terwyl die man en vrou rustig in die sitkamer sit, hy met sy koerant en sy met haar leesboek, tuur die man by die venster uit en merk op: “Dit lyk my dit gaan reën”. Dadelik staan die vrou op, sit haar boek op die koffietafel neer en loop na buite om die kombers en lakens van die draad te gaan afhaal. Sien jy wat hier gebeur? Die man het nie gesê: “Skat, dit kom reën en ek dink jy moet die wasgoed gaan haal nie.” Hy het ʼn bepaalde stelling gemaak wat in die konteks by die resepsie of ontvangs van die boodskap by sy vrou ʼn bepaalde reaksie tot gevolg gehad het. Beide van hulle het geweet dat Maandag wasdag is, en dat die lakens en die kombers buite was. Albei het geweet dat hulle vanaand graag onder die lakens en kombers wil inkruip. Dus, indien mens nou fikseer op die sin “Dit lyk my dit gaan reën”, mis mens die belangrikste dimensie van die kommunikatiewe handeling, naamlik die aksie van die afhaal van die kombers en lakens van die draad af. Dit is eintlik die punt van die hele saak en wat die man met sy woorde wou kommunikeer. Ons kan dus sê dat die intensie van die spreker juis bestaan het daarin om sy vrou bewus te maak van die bedreiging wat die reën sou inhou vir die lakens. Die punt is dus dat betekenis dikwels in konteks sin maak en dat daar dikwels gelaaide betekenis in stellings kan wees wat die deelnemers in die gesprek verstaan maar wat dalk nie vir die “objektiewe” leser so belangrik is nie. Dit is juis om hierdie rede dat teologie studente vir soveel jare teologie studeer juis om die Bybel binne die antieke konteks te verstaan. Sekere dinge maak net sin in ʼn sekere konteks, taal en kultuur. Onthou, tussen ons en die Bybel is daar eintlik ʼn reuse gaping van 2000 jaar in tyd en daar is ook ʼn kulturele gaping en ʼn taal-gaping. Die Nuwe Testament byvoorbeeld, is oorspronklik geskryf in Grieks. Selfs moderne Griekse mense sukkel om die Nuwe Testamentiese Grieks te verstaan – dit is amper erger as wanneer ons Shakespeare se Engels probeer verstaan! In sekere tale is daar sekere uitdrukkings wat eie is aan ʼn bepaalde groep en tyd. Vat maar die voorbeeld: “Hy het al weer die hasepad gekies”. In Engels, indien mens dit direk sou vertaal, sou dit geen sin maak nie: “He chose the rabbit-road again”. In Engels het mens nie so ʼn uitdrukking nie. Daarom kan die Engelse persoon nie die woorde letterlik opneem nie. Dit gaan tog tot misverstand lei! Mens moet dit baie mooi in Engels met ander woorde beskryf om die saak of punt wat gekommunikeer word reg oor te dra. Net so is dit met die Bybelse teks. Ons kan nie sommer net aanneem dat indien ons in die Bybel lees: “Julle is tot alles in staat…” of “Wat ook al julle in My naam vra sal ek julle gee” net so, letterlik geïnterpreteer moet word nie. Net soos Rabbit-road nie letterlik geïnterpreteer kan word nie. Daar is dus nie ʼn een tot een korrelasie tussen die woorde en die letterlike toepassing daarvan nie. Mens moet dus altyd eers vra: “Wat is die konteks waarin Paulus of Johannes dit gesê het?” “Wat bedoel hulle presies met wat ook al?”. Indien ons die Bybel sommer net so, onnadenkend interpreteer, mag ons dalk dink dat ons op God se woord staan en die Bybel alleen net so lees soos dit daar staan. “God said it, therefore I do it”. Maar die waarheid is egter dat so ʼn persoon eintlik aantoon hoe min hulle werklik van taal, konteks en betekenis verstaan. In die teologie noem ons dit hermeneutiek – of die studie van hoe kommunikasie werk en hoe daar tot “verstaan” gekom kan word. Indien mens bewus word van die meervoudige dimensies van taal, dan raak mens baie versigtig om nie te vinnig te sê “so spreek die Here nie”. Mens raak ook baie versigtig om die Bybel nie sommer te vinnig te gebruik as ʼn soort towerboekie nie. Inteendeel, mens ontwikkel eerder ʼn begeerte om die teks verantwoordelik te lees. Dit behels dat mens jouself blootstel aan perspektiewe wat jou kan help om die agtergrond van die Bybel te verstaan, en om moeite te doen met die studie van die Woord van God. Daar is baie hulpmiddels op die mark. Indien jy nog nie so iets het nie, koop gerus vir jou ʼn verklarende Bybel. So ʼn Bybel begin met ʼn kort agtergrondstudie van die konteks van die skrywer en die ontvangers van die boodskap en die hoof temas van die Bybelse boek of brief. Dan volg daar ʼn vers vir vers kommentaar op die teks wat jou in staat stel om die kommunikasie tussen lyne raak te sien. Een van my gunsteling boeke is die van Prof Hennie Stander met die titel “Hoe om die Bybel beter te verstaan” (Carpe Diem, 2003). Die boek hanteer die belangrikste dimensies waaroor ek hier skryf en bied dit aan met praktiese voorbeelde wat jou sal help om dinge maklik te verstaan en insig te kry in moeilike hermeneutiese sake.

Een laaste gedagte: Die ouens van ISIS wat mense in die naam van Mohammed onthoof, glo dat hulle die Koran reg en letterlik interpreteer. Hulle doen gewoon wat die teks sê. Die probleem is egter dat daar in die einste Koran ook baie dele is wat toleransie en sensitiwiteit vir die buitestander beklemtoon. Hulle kies ook maar die verse wat hulle wil ter wille van hulle eie ideologiese en politieke gewin. Dikwels doen Christene dieselfde. Die les wat ons by ISIS kan leer is dat mens baie baie versigtig moet wees met jou interpretasie van geskrifte en dat mens nie te vinnig God in ʼn boksie moet probeer sit om jou eie belange en wense te bedien nie. Onthou dat wanneer jy sê “Ek lees die teks en doen net wat die teks sê” dit gewoon nie so eenvoudig is nie. Dit wys eintlik hoe min jy verstaan van die aard van antieke tekste en die aard van kommunikasie waarin 80% van kommunikasie dikwels in konteks buite woorde sin maak. Kom ons raak nederig en luister eerder na God as wat ons te vinnig namens Hom wil praat of Hom wil probeer manipuleer vir ons eie gewin. Uiteindelik is God nie ʼn akteur in ons storie nie, maar is ons die akteurs in God se storie. Een van die vrug(te) van die Gees is nederigheid. Hoe slimmer en ouer ons word, hoe meer besef ons hoe min ons werklik van God en die lewe verstaan en hoe meer skep mens ruimte in nederigheid en “compassion” vir ander.

Skrywer:  Prof Kobus Kok