Onderskeidingsvermoë: Hoe beïnvloed dit ons?

 

Holiness is not the luxury of the few; it is a simple duty, for you and for me – Moeder Teresa

 

Onderskeidingsvermoë: Hoe beïnvloed dit ons?

Sinclair Ferguson (In Christ Alone) het ‘n interessante artikel oor onderskeidingsvermoë geskryf. ‘n Gebrek aan onderskeidingsvermoë is nie seldsaam nie – ook nie in die kerk nie. Ja, ons is baie versigtig vir dwaalleraars, maar onderskeidingsvermoë is meer as net dit. Dit beteken nie net dat ons reg en verkeerd onderskei nie, maar ook dit wat van primêre belang en dit wat van sekondêre belang is, onderskei. Ons moet die permanente van die tydelike onderskei; ons moet tussen goed en beter kan onderskei. Daarom bid die psalmis: Gee my goeie insig en kennis (Psalm 119:66).

 

Maar wat is onderskeidingsvermoë? Dit is die vermoë om te onderskei tussen en ook die morele implikasies van verskillende situasies of optrede raak te sien. Dit sluit in die vermoë om die morele status van individue, groepe en bewegings te beoordeel. Jesus waarsku ons om nie veroordelend te wees nie, maar terselfdertyd sê Hy dat ons moet kan onderskei anders gooi ons ons pêrels voor die varke (Matteus 7: en 6).

 

Jesus het onderskeidingsvermoë gehad. Dit betrek kennis van God se woord en sy optrede. Hierdie vermoë van Hom het gegroei soos Hy konflik en versoekings ondervind het. Hy beoordeel elke situasie in die lig van God se woord. Die enigste onderskeidingsvermoë wat die moeite werd vir ons is, is dit wat ons ontvang in ons eenheid met Christus, deur die Heilige Gees en deur God se woord.

 

Wat is die impak van onderskeidingsvermoë? Hoe beïnvloed dit die manier waarop ons leef?

  • Dit dien as beskerming, want dit verhoed dat ons geestelik mislei word. Dit verhoed dat ons deur dwaalleer weggewaai word – ‘n leer wat perifere dinge sentraal stel en sentrale dinge in die periferie.
  • Dit dien as ‘n instrument van genesing as dit in genade beoefen word. Dit is mense wat in die hart van ander kan sien en die geestelike behoeftes van ander kan sien en hulle help.
  • Dit dien as ‘n sleutel vir Christelike vryheid. Dit help ons om praktyke wat onder sekere omstandighede mag help te onderskei van praktyke wat onder alle omstandighede toegepas moet word.
  • Dit dien as katalis vir geestelike ontwikkeling. Al soek ‘n ligsinnige mens wysheid, hy kry dit nie; ‘n verstandige mens doen maklik kennis op (Spreuke 14:6). Die wyse mens kan onderskei en na die kern van ‘n saak gaan.

 

Hoe kry ons hierdie onderskeidingsvermoë? Deur die Gees en deur ons verstaan van God se woord; deur ons ondervinding van God se genade; deur die progressiewe onthulling van die toestand van ons eie harte.

 

Daarom moet ons bid: Ek is u dienaar: onderrig my tog in u verordeninge (Psalm 119:125).