Ongehoorsame kinders – Hermie van Zyl

Vraag:

Joos vra: Waar staan dit in die Bybel dat in die laaste dae die kinders ongehoorsaam sal wees en die ouers gehoorsaam?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Oor die eerste deel van die vraag (ongehoorsame kinders), is daar nie twyfel nie. Ons lees in 2 Timoteus 3:2 dat in die laaste dae mense ongehoorsaam aan hulle ouers sal wees. Dieselfde gedagte kom ook in Romeine 1:30 voor, hoewel dit hier nie aan die laaste dae gekoppel word nie. Hier gaan dit eerder oor die algemene verdorwenheid van die mens wat in sy opstand teen God die ware God verruil vir afgode en dan die gevolge daarvan dra: God gee hulle oor aan hulle verdraaide opvattings en onsedelike gedrag, wat dan onder andere uitmond in ongehoorsaamheid aan ouers.

Die tweede deel van die vraag (gehoorsame ouers) kom nie in die Bybel voor nie. Dit is waarskynlik sommer ’n opmerking wat in die volksmond ontstaan het om op ’n ietwat skertsende manier die omgekeerde orde van dinge in die sogenaamde laaste dae voor te stel: niks is soos wat dit behoort te wees nie; alles word op sy kop gekeer; in stede daarvan dat kinders aan hulle ouers gehoorsaam is, is dit nou eerder ouers wat onderdanig is aan hulle kinders.

In 2 Timoteus 3 kom die tipering van mense wat aan hulle ouers ongehoorsaam is, in ’n uitgebreide sondelys voor. Ons moet dus nie die ongehoorsaamheid aan ouers uit verband ruk nie, maar dit saamlees met die ander ondeugde en sondes wat daar genoem word. Hierdie sondelyste kom dikwels in die Nuwe Testament voor, byvoorbeeld Romeine 1:29-32, 1 Korintiërs 6:9-10, Galasiërs 5:19-21, Efesiërs 5:3-5, 1 Timoteus 1:9-10, om maar net enkeles te noem. Dis lyste wat deurgaans die algemene verdorwenheid van die mens beskryf, die tipiese houding en gedrag van mense wat hulle nie steur aan God se wil nie. Dit word dan opgestel teenoor die gedrag wat van Christene verwag kan word, as mense wat deur die Gees van God vervul is. Vergelyk in hierdie verband Galasiërs 5:22-23, waar die vrug van die Gees gelys word.

Die koppeling van die sondelys in 2 Timoteus 3:2-9 aan die “laaste dae” moet dus nie oorbeklemtoon word nie. Dis skandelike gedrag wat nog altyd by mense voorgekom het. Daarom dat hierdie lyste in verskillende kontekste van die Nuwe Testament genoem word, en nie net wanneer van die laaste dae sprake is nie. Telkens word daar ’n spieël opgehang van die ware aard van die mens sonder Christus, sonder die Gees van God: opstandig, gerig op die self, haters van ander, ongebreidelde wellus. Waarom die sondelys in 2 Timoteus 3 wel aan die laaste dae gekoppel word, is bloot om te sê dat namate die einde naderkom, dit wat nog altyd aan allerlei remminge onderworpe was, as ’t ware tot uitbarsting sal kom. Die sweer bars dan oop; die damwal breek; die ware aard van die mens sonder God breek dan in al sy felheid deur. Niemand weet egter wanneer hierdie finale manifestasie van boosheid sal aanbreek nie. Daarom dat ons “laaste dae” baie wyd moet definieer: ons leef immers sedert die koms van Christus in die laaste dae (vgl Heb 1:1-2). En soos wat die tyd voortgaan en die evangelie van Christus oor die wêreld sy loop neem, so sal die weerstand van die bose ook oplaai en manifesteer. Maar dis nie vir ons om die tyd van die einde te probeer bereken aan die hand van allerlei tekens nie. Die “tekens van die tyd” was nog altyd met ons. Ons roeping is om, wanneer ons hierdie “tekens” waarneem, navolgers van Jesus te wees en deur ons lewe tekens van sy koninkryk op te rig. Die uitwerk van God se Raad kan ons met geruste harte in sy Hand laat.

’n Laaste gedagte: Dis nie duidelik waarom onder andere ongehoorsaamheid aan ouers as sondige verskynsel van die laaste dae genoem word nie. Waarskynlik omdat daarin die oersonde van die mens verwoord word, naamlik opstand teen God se gesag. Wanneer God se gesag verwerp word, kom menslike vorme van gesag (bv die ouerhuis) ook aan die beurt, en vandaar tree al die ander vorme van die omverwerping van gesag wat die samelewingsorde bedreig, na vore. Uiteindelik is dit ’n totale goeie orde wat dreig om in duie te stort, wat vir die antieke gelowige teken was van die laaste dae, die einde van die wêreld. Maar, weer eens, die bedoeling van hierdie “tekens” is nie om berekenings te probeer maak van wanneer die einde sal aanbreek nie, maar om gelowiges voortdurend op te skerp tot ’n toegewyde lewe aan God en die naaste. Dan kan die bruidegom maar enige tyd kom; ons is gereed, soos die verstandige meisies van die gelykenis in Matteus 25:1-13.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl