Ongelooflik of Godgelooflik – Vraag

Ongelooflik of Godgelooflik – Vraag

Koos Rousseau vra die volgende vraag:

Ek is nie seker of ek op die regte plek is om my mening te lug nie maar nietemin hoor my asseblief net uit! Ek beskou myself nie as n Afrikaner puris nie maar daar is ‘n ding wat my dwars in die krop steek. Ons as Afrikaners en Christene spreek onsself so maklik uit en beklemtoon tog so maklik ons sterk gevoel veral in die konteks van ons geloof deur van die woord ONGELOOFLIK gebruik te maak.

Ons gebruik dit in ons huise by die werk en dan nog meer skokkend in ons plekke van aanbidding. Na my mening is die woord in die Engelse konteks van sy gebruik heel in die kol, maar dan gaan ons slaafs en pleeg die mees onaanvaarbare anglisistiese flater en wend die woord net so aan in sy betekenis in n Afrikaanse sinsnede en dan verwys ons dikwels na Bybelse verwante gebeurlikhede of nog erger na ons Skepper in Sy Drie-Eenheid en ons haal al die betekenis van die Grootheid van wat ons eintlik wil beklemtoon eensklaps uit deur te sê dit is ongelooflik…met ander woorde ons spreek die teendeel uit en gee aldus n totale ander betekenis aan dit wat ons Skepper toekom. Ons skep in ons onvermoë om n plaasvervanger te kry vir die woord “unbelieveable” n teelaarde vir die duiwel in dit wat eintlik na die oor en die kop oorgedra word! Help n bietjie daar! Die woord behoort verban te word in sy Afrikaanse konteks en ai asseblief kom ons begin by ons Kansels! Kom ons vervang dit eerder met die woord GODLOOFLIK…dan loof ons mos ons Magtige Skepper en gee totale erkenning! Vanoggend van julle webtuiste gehoor oppad na Moreleta erediens…die ding pla my al lank! Groetnis en Geseënde Paasfees.

 

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord soos volg:

Een van ons intekenaars (Koos Rousseau) het gevra dat ons iets moet skryf oor die alewige gebruik van die woord”ongelooflik”, selfs vanaf die kansels, in kontekste waar ons dikwels selfs oor die geloofswaarhede praat! So sal iemand byvoorbeeld vertel van die ongelooflike storie van Moses en hoe hy die Israeliete deur die bloeddorstige woestyn gelei het en hoe dit net ongelooflik was hoe die Here voorsien het. Nie net is dit volgens hom ‘n onaanvaarbare anglisistiese flater nie, maar spreek ons ook die teendeel uit van dit wat ons so pas gesê het. Interessant genoeg, as mens die definisie van die woord “ongelooflik” in die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse taal naslaan, sien mens onder andere die volgende betekenis: “Onaanneemlik; so dat ‘n mens daar geen geloof aan kan heg nie.” Die vraag is dus of ons waarlik bedoel wat ons sê, en sê wat ons bedoel? Sy voorstel is dat ons eerder die woord Godgelooflik gebruik om sodoende eer en lof aan God te gee. Met die eerste oogopslag van sy brief het ek onmiddellik gedink aan die Griekse woord pisteo (geloof) wat ongeveer 98 keer (vgl. byvoorbeeld net Johannes 1:12; 50; 2:21; 3:10; 15, 16, 18, 36, 4:21, 42, 48, 50; 5:24 ens.) alleen net deur Johannes in sy Evangelie voorkom. Johannes leer ons dat geloof jou ganse menswees beïnvloed. Volgens Johannes beïnvloed geloof mens se dade, mens se woorde en mens se ganse bestaanstoestand, lewensoriëntasie en toekoms. Daarom het geloof ook altyd ‘n etiese dimensie omdat dit onlosmaaklik gekoppel is aan hoe jy leef. In Johannes gebeur daar iets met jou identiteit as jy tot geloof kom. In Johannes 3 verduidelik Jesus vir Nikodemus dat mens geestelik wéér gebore moet word voordat jy werklik die volle implikasie van die Koninkryk van God sal insien. Wedergeboorte en geloof maak jou deel van ‘n nuwe familie (Johannes 1:12), naamlik die familie van die Koning. Skielik begin jy optree soos iemand wat aan daardie nuwe familie behoort. In jou lewe maak woorde soos sonde (16:9), haat (17:14), duisternis (3:19) en blindheid (9:40-41) plek vir woorde soos lig (1:4), lewe (3:16; 10:10), liefde (15:9) en geestelike insig (12:40). So ‘n mens praat ook anders en sy woorde getuig van iemand wie se lewe aangeraak is deur die Lig. Woorde soos on-geloof en on-gelooflik maak plek vir geloof en God-gelooflikheid omdat mense van die Lig sensitief is vir die woorde van en oor die Woord. Miskien is ons vriend reg as hy opmerk dat ons eerder die woord ongelooflik vir Godgelooflik moet verruil (veral as ons oor geloofsake praat), omdat ons immers mense is wat met ons hele bestaanstoestand en lewensoriëntasie, ons woorde en ons optrede, moet aantoon dat ons kinders van God is en dat ons ganse lewe deur Hom verander is. Onthou altyd dat die woorde wat jy na buite spreek ‘n refleksie behoort te wees van dit wat in jou hart leef. Mag ons mense wees wat bedoel wat ons sê en sê wat ons bedoel – mense wat sensitief is vir die woorde wat ons spreek! Mag ons veral rondom hierdie tema die woorde van Jakobus 3 in gedagte hou: 3Vir perde sit ons ‘n stang in die bek, en dan gehoorsaam hulle ons en het ons hulle hele liggaam onder beheer. 4Dink ook maar aan skepe: al is hulle baie groot en al is die winde wat hulle aandryf, baie sterk, word hulle tog met ‘n baie klein roertjie gestuur net waarheen die stuurman wil. 5So is die tong ook maar ‘n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag.’n Klein vuurtjie kan ‘n groot bos aan die brand steek. 6Die tong is ook ‘n vuur, ‘n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek. 7Alles wat loop, vlieg, kruip of swem, elke soort dier word en is al deur die mens getem, 8maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is ‘n rustelose kwaad, vol dodelike gif. 9Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. 10Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie. 11’n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en brak water opborrel nie. 12’n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra nie, of ‘n druiwestok vye nie. ‘n Brak fontein kan mos nie vars water gee nie! 

 

Skrywer: Dr Kobus Kok