Ons afkeer aan lyding

Without the heart it’s not worship, it’s a stage play. —Stephen Charnock

Ons afkeer aan lyding

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Ons toewyding aan spoed, ons afhanklikheid van arbeidsbesparende toestelle en tegnieke bring sekere vrae na vore:

Hoekom bespaar ons arbeid?

Watter soort ruimte skep ons in ons lewens deur arbeid uit te skakel? Wat gaan ons met daardie ruimte doen? Ledig wees? Ondermyn ons nie die geleenthede vir goeie werk goed gedoen nie?

 

Die mens is geskep om te werk. Vandag is daar spanning tussen goeie werk goed gedoen en die gevolge van oorwerk – tussen die goedheid en noodsaaklikheid van werk  en ons roeping as mense van God in ‘n sabbatslewe.

Die Westerse kultuur met al sy tegnologiese grootsheid het ‘n obsessie om lyding te oorkom. Natuurlik is daar sekere soorte lyding wat oorkom moet word as ons daartoe in staat is, maar ons roeping is deernis – om saam te ly. Ongelukkig het ons ‘n kultuur geskep wat lyding vermy. Nog erger: ons het die vermoë en gewilligheid om saam met ander te ly, verloor. Ons is nie meer saam met die mense wat huil nie. Ons is nie meer bereid om stadiger voort te gaan om by diegene wat alleen huil, te wees nie. Daarom is daar so baie mense wat in stilte en alleen ly – sonder enige menslike kontak.

Ons vermyding van lyding water ons getuienis van Jesus Christus, wat ons lyding in liefde op Homself geneem het, af. As ons nie meer kan deel in die lyding van medegelowiges en ons bure nie, is die Christus wat ons in ons buurt beliggaam ‘n vlak verwringing van dié Jesus wat ons in die Skrif raakloop. Die vermyding van lyding beteken dat ons kortpaaie neem wat ons wegstuur van menslike lyding, moeilike situasies en mense wat seer het. Mense wat siek of haweloos is, het mense wat saam met hulle as vriende sal loop nodig om hulle laste te help dra. Dit vereis baie van ons. Ons geloofsgemeenskappe gee aan mense in nood kos, klere en geld … en dan laat ons hulle verder op hulle pad … alleen.

Geduld is hoe deernis in ons lewens beliggaam word. Maar geduld is nie passiewe wag nie. Geduld beteken nie dat noodsaaklike verandering in die gemeente vermy word nie. Geduld beteken om aktief by die lewe betrokke te raak en om die lyding in en om ons te dra. Jy kan nie die lyding van ander hanteer soner om self deel daarvan te word nie. Die pad na genesing en versoening is die geduldige deernisvolle weg van Jesus Christus.

Geduld het ‘n vormingswaarde in die vroeë kerk gehad. Die kerkvaders het heelwat daaroor geskryf. Vir hulle was geduld langstaande lyding. Dit is wat hulle in die lewe, lyding, sterwe en opstanding van Jesus Christus gesien het – dit is beter om te ly as om skade te berokken. Hulle het vas geglo dat God ‘n nuwe familie, ‘n geloofsgemeenskap onder een Vader, geskep het. Hierdie gemeenskap het saam die moeilike pad van dissipelskap geloop en mekaar se laste gedra.  Tertullianus sê dat geduld en liefde waardes is wat na aan mekaar staan. Die eerste beskrywing van die liefde in 1 Korintiërs 13 is: Die liefde is geduldig.

Moderne gemeentes moet langstaande lyding weer ontdek. Ons moet getuies wees van die deernisvolle liefde van Jesus.

Hoe kan ons geduld in die plaaslike gemeente leer? Daarna kyk ons volgende keer.