Ons daaglikse werk

Ons daaglikse werk – Francois Malan

Sonde versteur God se doel met die mens om Hom en sy skepping met ons arbeid te dien. Christus herstel die arbeidsverhoudings tussen ons en God, ons en ons medemense, ons en arbeid, ons en ons arbeidsveld. 

1.    God se doel met die mens en sy arbeid

Jesus sê: ‘My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook’ (Johannes 5:17). Genesis 1:27 sê ‘God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God…’. God gee opdrag aan sy volk: ‘ses dae moet jy werk’ en die sewende dag rus (Eksodus 20:9-11). Die mens se bekwaamhede en potensiaal ontwikkel deur sinvolle arbeid as ‘n weergawe van God se skeppingswerk en die vreugde daarvan. Die mens is bedoel om God te dien, en alles tot eer van God te doen (1 Korintiërs 10:31). Dit sluit in dat ons ons medemense dien, en God se skepping bewaar en bewerk.

2.    Christus kom herstel die arbeidsverhoudings wat deur die sonde verbreek word

a.    Ons verhouding met God

Die mense eet die verbode vrug om soos God te word, en ons begin net vir onsself leef. Ons word ons eie god (Genesis 3:4-6). Omdat ons nie na sy wil wil luister nie, ontbeer ons ook God se wyse leiding, wat alles voorspoedig laat verloop (Jesaja 28:29; Deuteronomium  28:15-68). Israel hou aan om hulle verbond met God te verbreek. So verloor hulle Hom en sy seënende teenwoordigheid (Hosea 9:15-17).

Met sy bloed beseël Jesus God se nuwe verbond met sy gelowiges. In die nuwe verbond is die Here weer ons God, en as ons in Christus bly, dra ons baie vrug (Lukas 22:20; Hebreërs 8:10; Johannes 15:1-8). Nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus in my (Galasiërs 2:20). Sy Gees van liefde lei my. Daarom begin ek vir God lewe, en kan ek elke alledaagse takie sien as diens aan God en sy skepping, en die mense wat Hy gemaak het (1 Korintiërs 10:6).

b.    Ons verhouding met ons medemense      

In plaas van saam te werk op God se aarde, vermoor Kain vir Abel. Mense is jaloers op mekaar en misbruik mekaar, veral hulle ondergeskiktes. Hulle soek mag, en vertrap die armes en die swakkes (Genesis 4:8-12; Esegiël 18: 10-13).

In noue gemeenskap met Christus kan ons mekaar begin vergewe, mekaar liefhê en barmhartig en regverdig optree teenoor my man of vrou, gesin, familie, bure, mede-arbeiders, werkgewers en werknemers (Efesiërs 5:21-6:9).     

c.    Ons verhouding met ons arbeidsveld

Die verband tussen die mens en die aarde waaruit hy gevorm is, is versteur deur hulle ongehoorsaamheid aan God. Die aarde bring gevaarlike dorings en lastige distels voort en dit verg harde arbeid om te kan lewe (Genesis 2:7; 3:18,19). In plaas van die aarde te bewerk en op te pas, misbruik die mens die aarde se grondstowwe en omgewing (Genesis 2:15; 11:3,4).

Ons arbeid in gemeenskap met die Here is egter nie meer tevergeefs nie (1 Korintiërs 15:58). Dit is nie meer gevaarlik nie, want ons offer ons nie meer op aan ons werk nie, maar is self lewende offers vir God (Romeine 12:1). Die Here is ons Beskermer (Psalm 121:4). En nou kan ons met nuwe oë kyk na die natuur as God se skepping wat ons bewaar, skoonmaak en bewerk.

d.    Ons verhouding met ons arbeid

Na die sondeval word werk die mens se god. Hy word ‘n slaaf daarvan, soek sekuriteit in werk en geld. Rykes word deur hebsug gedryf; armes deur bekommernis. Hulle dien mammon en nie meer vir God nie (Matteus 6:19-34). Daarom is die mens se arbeid tevergeefs (Prediker 1,2). Luiheid en werkskuheid is egter ook sonde. As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie (2 Tessalonisense 3:10).

God het Israel uit die slawehuis van Egipte se harde arbeid bevry, om by Hom rus te kry, en uit dankbaarheid vir Hom en sy skepping te werk (Eksodus 20:2,8-11). Christus bevry ons van sonde en van die slawerny van werk. Ons hoef nie ons toekoms met besittings te verseker nie, want ons lewe is nie afhanklik van die oorvloed van ons besittings nie (Lukas 12:15). Ons Vader in die hemel weet wat ons nodig het, en ons vra ons daaglikse brood van Hom (Matteus 7:7-11; 6:11). Maar ons moet werk om ons eie brood te verdien (1 Tessalonisense 4:11; 2 Tessalonisense 3:12), en mededeelsaam te wees (Hebreërs 13:16).

Werk is ʼn manier om God te dien. Dit sluit die bewaring en ontwikkeling van God se skepping in, en is altyd diens aan mense, in die huis tot in die kombuis, in ons werkplek, op alle terreine van die lewe. Jesus kom bevry ons om met ons werk vir God en ons medemens met vreugde en toewyding te dien. 

 

Outeur: Dr Francois Malan