Ons hou nie van wag nie

Come to the edge, He said. They said: We are afraid. Come to the edge, He said. They came. He pushed them, And they flew . . .Guillaume Apollinaire

 

Ons hou nie van wag nie

In hierdie tyd waarin alles kits-iets is, hou ons niks van wag nie. Ons word gefrustreer as ons moet wag. ‘n Onlangse artikel in die New York Times sê dat mense ‘n webblad minder sal besoek as dit meer as 250 millisekondes stadiger is as dié van ‘n mededinger! Dit is ‘n kwart sekonde – geen normale mens kan so lank wag nie!!

 

 

Wat is die probleem? As ons wag voel dit vir ons asof ons tyd mors en niemand mag tyd mors nie. Ons het te veel om te doen; elke sekonde tel. Die Advent seisoen is ‘n seisoen van wag. Ons word herinner aan die eeue wat God se mense gewag het op die vervulling van sy belofte dat Hy ‘n Messias sou stuur – jare van onsekerheid en twyfel. Ons glo dat hierdie seisoen net te doen het met Jesus se geboorte. Dit is natuurlik waar, maar ons moenie die vooraf wagtyd vergeet nie.

 

Miskien is wag nie so sleg soos ons dink nie. Hou wag moontlik enige voordele in?

  • Ons word so vasgevang in ons eie planne; ons glo dat alles wat ons doen belangrik is. Daarom is dit so frustrerend om te wag. As ons moet wag, word ons daaraan herinner dat ander mense ook planne en prioriteite het. Ons is nie die fokuspunt van die heelal nie. Natuurlik moet ons beplan, maar ons moet dit net in perspektief sien.
  • As ons moet wag besef ons ten minste dat ons nie in beheer is nie. Dit is ‘n goeie geleentheid om na te dink oor wie nou eintlik in beheer is.
  • As ek moet wag, het ek ‘n keuse: ek kan murmureer en kla oor die verlies aan my kosbare tyd of ek kan myself daaraan herinner dat elke sekonde van my lewe ‘n gawe van God is sodat ek die geleentheid het om vir sy heerlikheid te lewe. Dit is nie wat ek beplan het nie, maar dit verander nie God se gawe nie.
  • Wag frustreer ons, want ons is toekoms georiënteerd – ons fokus altyd op wat volgende kom. Maar wat van nou? Volgende is in God se hande. Nou is wat ons het.
  • Elkeen van ons het beperkte tyd tot ons beskikking. Hoekom moet ons nou wag vir dinge om te gebeur? Maar natuurlik is ons tyd nie beperk nie – ons is immers bestem vir ‘n ewige lewe. Dit beteken nie ons kan maar gerus wees oor die tyd wat ons nou het nie, maar wag herinner ons dat hierdie lewe slegs deel is van ‘n groter geheel. As ons aan die ewigheid dink, is ‘n paar minute se wag nie so erg nie.

 

Die Adventseisoen is ‘n goeie tyd om weer nuut na tyd te kyk. God laat sy mense vir eeue wag voor Hy sy belofte vervul en die Messias stuur. Ons wag al weer eeue vir Jesus se tweede koms. Wag herinner ons daaraan dat hierdie God se storie is, dat Hy in beheer is en dat Hy die storie sal laat ontvou wanneer Hy wil. Dit gaan nie oor ons nie.