Ons leef in ‘n demokratiese wêreld … of nie?

 

 Vraag aan ‘n Ortodokse priester: “Father, do you believe we are saved by faith or by works. Hy antwoord: “Neither, but by the mercy of God.”

Ons leef in ‘n demokratiese wêreld … of nie?

Elke vyf jaar kies ons ons leiers. Ons leef immers in ‘n demokratiese wêreld. Dit is nie hoe dit met ons verlossing werk nie. Ons kies nie ons Verlosser(s) nie. Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies (Johannes 15:16).

 Ons kies ons leiers op grond van hulle prestasies in die verlede; God kies ons ten spyte van ons prestasies. Die mense verdien God se ewige straf, maar uit hierdie opstandige mensdom kies God mense: U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie (Openbaring 5:9).

 God maak vir Hom ‘n nuwe volk bymekaar. Lede van hierdie volk is steeds lede van die menseras, maar word ook aangeneem as lede van God se familie. Aan die kop van die familietafel sit die Vader en Hy herinner ons aan hierdie groot waarheid: Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig (1 Petrus 2:9).

 

 Hoe kan ons God se kinders word? So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees (Efesiërs 1:4 – 5).

 God help nie vir my en jou om onsself te verlos nie. Jona het dit eers agtergekom toe hy deur ‘n groot vis ingesluk is. Doodsbenoud bid hy. Luister hoe sluit hy sy gebed af: Hulp kom net van die Here af (Jona 2:9). Die New King James Version vertaal dit met: Salvation is of the Lord. Die NIV: Salvation comes from the Lord. Die NLV: Net die Here bring verlossing.

 Ek kies nie my Verlosser nie, want net die Here kan verlos. Daar is geen keuse nie, want daar is geen ander Verlosser nie.