Ons is louwarm

 

“The Father did not require the death of Christ to persuade Him to love us. Christ died because the Father loves us.”Sinclair Ferguson

 

Ons is louwarm

Here, Here , ‘n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou (Eksodus 34:6 – OAV). En verder word van die bedienaars vereis dat hulle getrou moet bevind word (1 Korintiërs 4:2 – OAV). Hoe getrou is ons? Groot van trou? Louwarm? ‘n Louwarm gesindheid is dikwels die gevolg van herhaalde kompromieë wat ons aangaan. Met elke kompromis verminder ons voorneme om die waarheid te sien en om getrou te wees daaraan.

 

Die gemeente in Laodisea is daarvan beskuldig dat hulle louwarm was (Openbaring 3:14 – 22). Wat kan ons by hulle leer?

  • Om louwarm te wees, is ‘n simptoom van ‘n siekte

Meeste van ons is ook maar louwarm. Ons geloof word nie deur vervolging in gevaar gestel nie, maar deur die voortdurende versoekings van kompromieë met die wêreld. Jesus, die geloofwaardige en ware getuie, sê dat die mense in Laodisea nie koud of warm is nie – hulle is nie meer getrou nie. Hy raai hulle aan om by Hom oogsalf te koop om aan julle oë te smeer, sodat julle kan sien. As ons louwarm is, is dit ‘n simptoom van ‘n onderliggende siekte – ons is nie meer getrou nie. Dit is ‘n siekte waarteen ons moet veg en dit oorwin.

 

  • Jesus se voorskrif vir ontrou

Laat dit dan vir julle erns wees en bekeer julle. Ons moet ywerig wees (OAV).. Is dit nie ons probleem nie: ons is nie meer ywerig nie? Om louwarm te wees is nie die siekte nie – dit is bloot die simptoom van die onderliggende siekte. Behandel ons dit nie, is die gevolge ernstig: Jesus sê dat Hy ons uit sy mond sal uitspoeg. Die ontroues ontvang nie die ewige beloning nie, maar wel diegene wat die oorwinning behaal – hulle wat veg en oorwin.

 

Om getrou te bly, is ‘n stryd – dit is oorlog. Ons moet elke dag veg teen die versoeking om kompromië aan te gaan. Luister na Paulus se raad aan die jonge Timoteus: In die goeie wedloop van geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal (1 Timoteus 6:12)