Ons sing nie in hierdie gemeente nie!

 

“In all the various forms of revelation, there is one meaning: Emmanuel, God with us.” – Emil Brunner

Ons sing nie in hierdie gemeente nie!

Huldreich Zwingli, die bekende Hervormer van Switserland, het baie veranderinge in die eredienste in sy gemeente in Zürich aangebring. Die radikaalste was waarskynlik dat hy alle musiek – instrumenteel en vokaal – tydens eredienste verbied het. Dit is eienaardig, want Zwingli was ‘n erkende musikus – hy kon tien verskillende musiekinstrumente bespeel en kon ook goed sing. In 1525 verbied hy koorsang in die gemeente en in Desember 1527 word die orrel afgebreek. Hoekom?

 

  • Al die musiek was verbind met aanbidding in die Rooms-Katolieke kerk. Hy wou sy gemeente so ver as moontlik losmaak van hulle verbintenis met die verlede.
  • Die woorde was in Latyn en daarom het die mense dit nie verstaan nie. Hy wou gehad het dat elke deel van die erediens in die plaaslike taal gevoer moet word.
  • Destyds het mense dikwels hulle honde na die eredienste gebring. Tydens die musiek het hierdie honde begin tjank. Dit het die erediens ontwrig.

Dit word dikwels beweer dat Zwingli musiek gehaat het. Dit is nie waar nie. Hy het egter gevoel dat van die sangers en musici (veral orreliste) hulleself deur hulle musiek probeer bevorder het. Dit het afbreuk aan ware aanbidding gedoen en daarom het hy dit verban.