Ons sing nie meer in die kerk nie

 There is a land of the living and a land of the dead and the bridge is love. ” Thornton Wilder

 

Ons sing nie meer in die kerk nie

Thom Schultz sê dat die meerderheid mense nie meer in die kerk sing nie. Diegene wat wel sing, het skaars hulle lippe beweeg. Al stemme wat jy hoor, is die sangers op die verhoog met hulle mikrofone. As die sogenaamde aanbiddingsleier op die verhoog kom en vra dat die mense moet staan en sing, staan almal ewe gedwee op, maar dan word hulle stom. Hoekom het dit gebeur? Schultz noem vier redes:

 

  • Gemeentelike sang word toenemend ‘n toeskouer gebeurtenis

 Almal verwag dat die mense op die verhoog hulle ding moet doen. Die lidmate in die kerkbanke gedra hulle soos ‘n goeie gehoor: hulle kom in; hulle is stil; hulle vra nie vrae nie; hulle dra nie by nie; hulle kyk hoe die sangers in die veelkleurige ligte hulle konsert uitvoer.

 

  • Professionalisme

Die musiek moet meer professioneel as deelnemend wees. Die lidmate in die banke besef hulle kan nie kers vashou met die harde stemme in die mikrofone nie. Kwaliteit word aanbid. Lidmate gaan hierdie kwaliteit net afbring. Daarom bly jy stil of maak of jy sing.

 

  • Geluid

Die musikante se volume is so hoog dat die lidmate nie eers hulle eie stemme of dié van die mense om hulle kan hoor nie. Daarom sing hulle nie – hulle kan tog niks byvoeg nie. Daar is geen manier wat die gemeente se pogings deur die lawaai gaan breek nie.

 

  • Musiekkeuse

Mense sing nie, want dikwels is die liedere onbekend of moeilik om te sing. Die lied mag nog tematies by die preek pas, maar dit is onmoontlik om dit te sing. Soms kies die aanbiddingsleier liedere geskryf deur sy gunsteling skrywer – hyself.

 

Schultz sê dat hy hom by die meerderheid aangesluit het – hy sing nie meer nie. Hy weet hy moet hierdie hindernisse kan oorkom, maar hy verlang na ‘n omgewing wat sy deelname ontlok en waardeer.