Ons word oud – Ons kyk vooruit

If you only hear from someone when they disagree with you, they are a “critic” not a “friend.” – Jonathan Merritt

Ons word oud – Ons kyk vooruit

J. I. Packer het onlangs ‘n kort boekie oor oud word geskryf: Finishing our Course with Joy. Ek gaan ‘n hele aantal blogs oor oud word skryf en van hierdie boek gebruik maak

Mense word deur hoop gemotiveer en gedryf; hoop gee ons energie. Dit is natuurlik vir die mens om vooruit te kyk en te verlang na die goeie dinge. God het ons so gemaak – om ons lewens in hierdie wêreld so te leef dat ons vooruit kyk en voorberei vir iets beter as wat ons tans beleef.

Een van die tragedies van ons hedendaagse sekulêre, post-Christendom samelewing is dat daar geen plek vir die hoop wat God deur die dood van Jesus Christus vir die mens verwerf het, meer is nie.

Daar is nog korttermyn, wêreldse hoop – hoop om te herstel van ‘n siekte of finansiële terugslag of hoop om ‘n ramp te voorkom, ens. Maar langtermyn hoop – hoop wat verby hierdie wêreld kyk – word gekoppel aan geloof in die Drie-enige God. Ons wêreld ken nie meer hierdie hoop nie.

Die moderne mens het weggedryf van die Christelike geloof en daardeur het hulle ook hulle Christelike hoop verloor. Dit is tragies, want die Nuwe Testament maak dit duidelik dat geloof in Jesus Christus in ons die hoop op ‘n heerlike toekoms herstel het. Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ‘n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie (Romeine 8:24. Ook 1 Petrus 1:3 – 9).

Die Nuwe Testament is vol afwagting vir Jesus Christus se wederkoms waartydens Hy al die dooies sal opwek, die heelal sal hernuwe en alle mense sal oordeel. Dan gaan Hy diegene wat aan Hom getrou was na Hom toe neem – Hy gaan hulle skei van diegene wat nie waarlik in Hom geglo het nie.

Die impak van die vroeë Christene het verband gehou met hierdie vreugde en opwinding waarmee hulle hierdie hoop aangegryp het. Dit is tyd dat ons hierdie hoop weer ontdek en en weer ons eie maak. Hierdie is ‘n belangrike taak vir ouer mense.