Ontmoetings met Jesus: Die Bruilofsfees (1)

 

“If God be God over us, he must be over us in every thing.” Peter Bulkeley

Ontmoetings met Jesus: Die Bruilofsfees (1)

[Ek maak onder andere van Timothy Keller se boek Encounters with Jesus gebruik.]

In die Johannes-evangelie lees ons van ‘n hele aantal ontmoetings wat Jesus met individue gehad het. In hulle antwoord Hy van die groot lewensvrae. Hier gaan dit oor Jesus se bywoning by die bruilofsfees in Kana (Johannes 2). Die vraag wat ons uit hierdie ontmoeting  gaan antwoord, is: Ons het gesien dat Jesus gekom het om dinge op aarde reg te stel: Hoe het Hy dit gedoen?

Jesus, sy moeder en sy dissipels woon ‘n bruilofsfees in Kana by. In tradisionele kulture word meer aandag aan die familie en gemeenskap as aan die individu gegee. Wat destyds belangrik was, is nie individuele prestasies nie, maar of jy ‘n goeie man, eggenoot, ouer, seun, dogter is. Daarom gaan ‘n huwelik nie net oor die geluk van twee mense nie, maar om die gemeenskap aan mekaar te verbind en so die volgende geslag groot te maak.

 

Daarom was ‘n bruilof destyds baie belangriker as wat dit vandag is – dit was ‘n openbare fees vir die hele dorp. Ook was dit ‘n belangrike dag vir die bruid en bruidegom, want nou word hulle volwasse lede van die gemeenskap. Geen wonder die bruilof duur ‘n week nie.

Maar op hierdie bruilof lees ons van ‘n ramp: die wyn het opgeraak. Wyn was ‘n belangrike element van die fees – as daar geen wyn is nie, is die partytjie vir alle praktiese doeleindes verby. Hierdie was ‘n sosiale en sielkundige ramp.  Jesus beredder die situasie – Hy doen ‘n wonderteken. ‘n Teken is ‘n simbool van iets anders. Hier sien ons die eerste teken van Jesus se heerlikheid en sy ware identiteit.

Hierdie is die begin van Jesus se openbare bediening. Omdat dit die geval is, moet ons hierdie verhaal sorgvuldig lees. Hoekom sou Jesus se besluit om die partytjie aan die gang te hou nou juis belangrik wees? Hierdie was nie ‘n saak van lewe en dood nie – net ‘n sosiale verleentheid.

In vers 8 en 9 ontmoet ons die seremoniemeester. Hy moes seker maak dat die partytjie ‘n sukses is. Toe Jesus die water in wyn verander, sê Hy in werklikheid: Ek is die meester van die fees. Jesus Christus sê dat Hy en sy dissipels lyding en opoffering moet verwag. Alles is slegs bakens op pad na die einde – ‘n vreugdefees. Alles lei tot sy opstanding, ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde – die einde van alle hartseer en trane. Kom ondervind en sien self dat die Here goed is! Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil (Psalm 34:9).

Wat sê die Bybel van die laaste dag? 6Op die berg Sion gaan die Here die Almagtige ’n feesmaal voorberei vir al die volke van die wêreld. Daar sal ’n oorvloed heerlike kos en die beste wyn wees. 7Hier op die berg sal die Here die wolk van onheil wat oor die volke gehang het, wegvat asook die doek wat hulle oor hulle gesig gedra het as teken van hulle rou en hartseer. 8Hy sal die dood vir ewig vernietig en die trane afdroog. Die Here sal ’n einde maak aan die vernedering wat sy volk oor die wêreld moes verduur. Die Here het dit gesê (Jesaja 25:6 – 8 – Die Boodskap). Ons word nie uit die wêreld na die hemel weggetrek nie – die hemel kom af na ons toe; die wêreld word vernuwe.

In werklikheid sê Jesus: “Ek is die meester van die Fees. Aan die einde bring Ek vreugde.” Dit is wat Jesus bring: vreugde. Hoekom? Jesus red die bruidspaar van ‘n groot verleentheid. Hoe? Deur die klipkanne wat die Jode vir seremoniële reiniging gebruik het met wyn te vul. Die Jode het baie reinheidsrituele gehad, maar Jesus doen nou waarna die Ou Testamentiese seremoniële en offerwette verwys het. Hy kom om mense rein te maak. Ons kan egter nie hierdie vreugde wat Jesus bring verstaan as ons nie sonde verstaan nie. Ons moet verstaan dat almal van ons onrein is en gereinig moet word.

Maar hoe reinig Jesus ons? Daarna kyk ons volgende keer.