Ontmoetings met Jesus: Die Bruilofsfees (2)

 “Christians should so spiritualize our hearts and affections that we may have heavenly hearts in earthly employments.” Thomas Gouge

Ontmoetings met Jesus: Die Bruilofsfees (2)

[Ek maak onder andere van Timothy Keller se boek Encounters with Jesus gebruik.]

In die Johannes-evangelie lees ons van ‘n hele aantal ontmoetings wat Jesus met individue gehad het. In hulle antwoord Hy van die groot lewensvrae. Hier gaan dit oor Jesus se bywoning by die bruilofsfees in Kana (Johannes 2). Die vraag wat ons uit hierdie ontmoeting  gaan antwoord, is: Ons het gesien dat Jesus gekom het om dinge op aarde reg te stel: Hoe het Hy dit gedoen?

Hoe genees, reinig en vergewe Jesus vir ons? Maria sê vir Jesus dat die wyn op is. Maria het nie alles aangaande Jesus verstaan nie, maar sy het geweet dat Hy nie ‘n gewone mens is nie. Daarom kom sy na Hom toe. Ons staan verbaas oor Jesus se reaksie: Waarom sê u dit vir My? Dit is nou nie juis ‘n manier om met jou moeder te praat nie. Ons weet dat Jesus nie sommer dinge sê waaroor Hy later spyt sal wees nie; ons weet dat Jesus nie sommer geïrriteerd word nie. Iets moes baie swaar op sy gemoed gerus het:

 My tyd het nog nie gekom nie.  As Jesus in die Johannes-evangelie van My tyd praat, verwys Hy gewoonlik na sy kruisdood. Maria stry nie met Hom nie; sy vra ook nie ‘n verduideliking nie. Sy sê net vir die kelners: Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.

Hoekom sou Jesus so ‘n eenvoudige versoek met sy dood verbind? Die wonder wat Hy gaan doen, is ‘n teken van wat Hy gekom het om te doen. Toe Jesus die stelling oor my tyd gemaak het, kyk Hy verby Maria en die bruilof en sien iets anders: Ek kan vreugde na die wêreld bring; Ek kan die mense van hulle sonde en skuld reinig; Ek het gekom om vreugde te bring, maar Ek moet eers sterf om dit te doen.

Ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel sien afkom. Die stad was gereed soos ‘n bruid wat vir haar man versier is (Openbaring 21:2). Toe sê die engel vir my: “Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is.” (Openbaring 19:9). Jesus is bewus dat aan die einde daar ‘n bruilofsfees sal wees wat alle ander feeste oortref. Dit is wat Jesus gekom het om te doen: om die intieme, permanente verbintenis van mense wat God en mekaar liefhet, te kom bevestig. Dan word die bruid – diegene wat Jesus liefhet – finaal verenig met Hom.

Hoe het Jesus gekom om vir ons vreugde te bring? Deur al sy vreugde te verloor; deur  sy hemelse bestaan by die Vader te verlaat; deur na die kruis te gaan en in ons plek te sterf. Jesus Christus het nie gekom om ons te vertel hoe ons onsself kan verlos nie – Hyself verlos ons. Deur die seremoniële klipkanne te gebruik vervul Jesus die offersisteem van die Ou Testament.

Hier is nog twee belangrike lesse wat ons kan leer:

  • Elke keer as God ‘n beeld gebruik om ons in staat te stel om Hom beter te sien, wys Hy ook vir ons hoe Hy ons sien. Hy is die bruidegom en ons is sy bruid. Hy sien ons as mense wat versier is vir sy koms. Hy het ons lief soos ‘n bruidegom sy bruid het. Hoe wonderlik sou ons lewens nie gewees het as ons elke oomblik hiervan bewus sou wees nie.
  •  Jy moet die huidige hanteer deur na die toekoms te kyk. Dit beteken dat ons te midde van die hele wêreld se hartseer steeds sy vreugde kan proe. Daar is net een vreugde, een fees wat jou hart alles kan gee wat hy nodig het. Daarom is geen hindernis te groot vir jou nie.

Volgende keer kyk ons na die laaste ontmoeting: dié tussen Jesus en Maria Magdalena.