Ontmoetings met Jesus: Die lid van die binnekring en die uitgeworpene (2)

 

The Creation has its foundation and its origin in God alone –  Emil Brunner

Ontmoetings met Jesus: Die lid van die binnekring en die uitgeworpene  (2)

[Ek maak onder andere van Timothy Keller se boek Encounters with Jesus gebruik.]

In die Johannes-evangelie lees ons van ‘n hele aantal ontmoetings wat Jesus met individue gehad het. In hulle antwoord Hy van die groot lewensvrae. Hier gaan dit oor Jesus se ontmoetings met Nikodemus en die Samaritaanse vrou. Die vraag wat ons uit hierdie twee ontmoetings gaan antwoord, is: Wat is verkeerd met die wêreld soos dit tans is?

Ons begin met Jesus se ontmoeting met die Samaritaanse vrou in Johannes 4. Jesus reis met sy dissipels deur Samaria. Hulle kom by ‘n dorp aan. Jesus was moeg en gaan sit by die fontein buite die dorp. Sy dissipels gaan dorp toe om vir hulle kos te gaan koop. Daar kom ‘n Samaritaanse vrou daar aan om te kom water haal.

Dit was twaalfuur die middag – die warmste tyd van die dag. Jesus kon nie water  kry nie, want Hy het nie ‘n skepding gehad nie en die put was diep. Jesus vra die vrou vir ‘n bietjie water. Die Samaritaanse vrou is verbaas dat Jesus vir haar – ‘n Samaritaanse vrou – vir water vra.

Hierdie is ‘n ongelooflike verhaal. Hoekom?

  • Dit is radikaal dat ‘n man ‘n gesprek met ‘n vrou inisieer – maar Jesus doen dit. Nog erger is dat die vrou ‘n Samaritaan is, want die Jode en Samaritane was bitter vyande. Die Jode het die Samaritane as minderwaardig beskou. Dit klink vir ons snaaks, maar destyds was dit ‘n werklikheid.
  • Dit was ook skandalig dat ‘n Joodse man met ‘n vreemde vrou in die openbaar praat, maar Jesus doen dit. Dat sy in die middel van die dag kom water haal het, is nie normaal nie. Vrouens het gewoonlik soggens vroeg kom water haal – terwyl dit nog koel was. Hoekom sou sy in die middel van die dag gekom het? Omdat haar eie gemeenskap haar verwerp het.

Ons bou allerhande versperrings om mense te skei – ras, kultuur, geslag, ens. Jesus reik oor al hierdie versperrings uit na hierdie vrou. Dit is beslis radikaal wat Hy hier doen. Jesus konfronteer haar, maar op ‘n oop en vriendelike manier. As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: “Gee My ‘n bietjie water om te drink,” sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.”  Waarvan praat Jesus hier? Hy praat van lewende water wat Hy later die ewige lewe noem.

Wat maak ons gelukkig. Daarna gaan ons volgende keer kyk.