Ontmoetings met Jesus: Die lid van die binnekring en die uitgeworpene (3)

image_pdfimage_print

Since we have a Father in heaven, let us look up to heaven often. —Thomas Manton

Ontmoetings met Jesus: Die lid van die binnekring en die uitgeworpene  (3)

[Ek maak onder andere van Timothy Keller se boek Encounters with Jesus gebruik.]

In die Johannes-evangelie lees ons van ‘n hele aantal ontmoetings wat Jesus met individue gehad het. In hulle antwoord Hy van die groot lewensvrae. Hier gaan dit oor Jesus se ontmoetings met Nikodemus en die Samaritaanse vrou. Die vraag wat ons uit hierdie twee ontmoetings gaan antwoord, is: Wat is verkeerd met die wêreld soos dit tans is?

Min van ons weet veel van werklike dors – ons draai die kraan oop en die water is daar. Mense in die woestyn, daarenteen, ken dors. Om water te kry nadat jy lank sonder water moes klaarkom, is die bevredigendste ondervinding moontlik. Jesus sê vir die Samaritaanse vrou: “Ek het iets vir jou wat geestelik net so noodsaaklik vir jou is as wat water liggaamlik vir jou nodig is. As jy dit nie het nie, is jy verlore.”

Jesus sê nie net wat sy nodig het nie, maar beklemtoon dat dit lewensreddend is. Hy praat hier van tevredenheid van ons siel wat nie afhanklik is van wat om ons gebeur nie.

Wat maak ons gelukkig? Feitlik altyd dink ons aan iets buite onsself – geld, besittings, my beroep … Dit laat my belangrik voel en gee vir my sekerheid. Jesus sê daar is niks buite onsself wat ons gelukkig kan maak nie. Wat ons nodig het, is hierdie water wat in ons ‘n fontein is. Jesus kan hierdie water gee wat jou gelukkig sal maak, maak nie saak wat buite gebeur nie.

Maar ons is doof vir hierdie boodskap. Hoekom? Solank as wat ons dink ons kan ons drome verwesenlik  en glo ons gaan slaag, dink ons ons innerlike leegheid is ‘n teken van dryfkrag. Ons glo ons is onvervuld, want ons het nog nie ons drome verwesenlik  nie. Die groot skok kom as ons ons drome vervul en steeds innerlik leeg bly. Dan besef ons dat geld, roem en prestasies nie die antwoord is nie.

Die vrou vra vir Jesus van daardie water wat Hy belowe het. Dan kry ons ‘n baie interessante gesprek. Jesus vra haar om haar man te roep.  Sy antwoord dat sy geen man het nie. Jesus sê vir haar dat sy reeds vyf gehad het en die een wat sy nou het, is nie haar man nie. Hierdie vrou pas perfek in ons definisie van sondaar in. Maar hoekom verander Jesus die onderwerp van lewende water na haar mans toe? Wil Hy haar verneder?  Nee, Hy sê dat as sy die aard van die lewende water wil verstaan,  sy eers besef hoe sy dit tot dusver in haar lewe gesoek het … mans.  Haar behoefte aan mans verteer haar.  Almal van ons aanbid iets. Die enigste verskil is wie of wat ons aanbid.

Die vrou is geskok dat Jesus so baie van haar lewe weet. Sy glo dat Hy ‘n profeet is. Dan vra sy ‘n baie belangrike vraag:  Ons voorouers het God op hierdie plek aanbid, en tog sê julle die plek waar ‘n mens God moet aanbid, is in Jerusalem. Jesus se antwoord kan ons so opsom: Daar kom ‘n tyd wanneer geen fisiese tempel nodig sal wees om toegang tot God te kry nie. Die vrou weet dat die Messias sal kom en Hy sal alles aan ons bekend maak. Dan Jesus se antwoord: Dit is Ek wat met jou praat.

Ons gaan nou na die tweede deel van hierdie ontmoeting kyk: Jesus se ontmoeting met Nikodemus.

image_pdfimage_print

You may also like...