Ontmoetings met Jesus: Die twee hartseer susters: Marta en Maria (1)

 

Ontmoetings met Jesus: Die twee hartseer susters: Marta en Maria (1)

[Ek maak onder andere van Timothy Keller se boek Encounters with Jesus gebruik.]

In die Johannes-evangelie lees ons van ‘n hele aantal ontmoetings wat Jesus met individue gehad het. In hulle antwoord Hy van die groot lewensvrae. Hier gaan dit oor Jesus se ontmoeting met Marta en Maria. Die vraag wat ons uit hierdie ontmoeting  gaan antwoord, is: Wie of wat kan die wêreld weer regstel?

Niemand beweer dat alles in die wêreld reg is en dat daar niks met die mense verkeerd is nie. Die groot vraag is: Wie of wat kan die wêreld weer regstel? Christene glo dat die antwoord Jesus Christus is. In Johannes 11 lees ons van Jesus se ontmoeting met die twee susters net na Lasarus – vir wie Jesus baie lief gehad het – dood is.

 

Lasarus is baie siek. Die susters stuur iemand na Jesus met die boodskap dat Lasarus siek is. Toe Jesus uiteindelik by hulle aankom was Lasarus al dood en begrawe. Almal is in rou. Marta is die eerste suster wat vir Jesus sien kom. Sy sê vir Jesus: Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. Marta gaan later vir Maria roep en lig haar in dat Jesus daar is. Maria gaan na Jesus en sê vir Hom: Here, as U hier was sou my broer nie gesterwe het nie.

Ons het hier twee susters in dieselfde omstandighede wat presies dieselfde woorde vir Jesus sê, maar Jesus reageer verskillend. Met Marta  argumenteer Jesus. Sy sê Hy het te laat daar aangekom, maar Jesus sê vir haar dat dit vir Hom nooit te laat is nie: Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo sal lewe al sterwe hy ook. Jesus hanteer Marta se wanhoop, wys haar tereg oor haar twyfel en gee vir haar hoop. Sy benadering tot Maria verskil radikaal. Toe Hy sien dat Maria huil het sy gemoed vol geskiet en Hy was aangedaan.  Hy vra net: Waar het julle hom begrawe?

Hoekom behandel Jesus die twee susters verskillend? Omdat Hy verhoudings verstaan. Hy weet jy kan nie alle mense eenders hanteer nie. Dit sê vir ons iets van sy karakter. Hierdie ontmoeting wys vir ons dat Jesus waarlik mens, maar ook  waarlik God is. Vir Marta sê Jesus dat  net God lewe kan gee en lewe kan neem. Hy sê nie vir Marta dat Hy Lasarus gaan opwek nie; Hy sê: Ek is die opstanding en die lewe. In Lukas 10:18 sê Jesus dat Hy die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val het – Hy het Satan se prehistoriese val gesien. Dit beteken Hy was van altyd af daar – Hy is God.

Baie mense sukkel hiermee. Hoe kan Jesus God wees as Hy hier op aarde as mens rondgestap het? Daarna kyk ons volgende keer.