Ontvang mens nie die Gees as jy nie gedoop word nie?

Ontvang mens nie die Gees as jy nie gedoop word nie? – Kobus Kok

Dorette Kruger vra:

Wat word bedoel in Handelinge 2:38 waar gesê word jy moet jou bekeer en laat doop (in die naam van Jesus Christus) en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang? Beteken dit as jy jou nie laat doop nie, jy nie die Heilige Gees ontvang nie? Ek het verstaan dat as jy jou bekeer, jy outomaties die Heilige Gees ontvang, maar is nou glad nie seker nie. Nog ‘n vraag: wat is die verskil tussen die ‘Johannes Doop’ (afwas van sonde/reddingsdoop), Jesus se doop in ‘Naam van Vader, Seun en Heilige Gees’ en laastens die doop in ‘Naam van Jesus Christus’? Ek het gedog daar is net twee naamlik die eerste twee?

Antwoord:

Dr. Kobus Kok antwoord:

In Handelinge 2:38 lees ons “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.” Hier is dit duidelik dat dit in die konteks van bekering en in die konteks van tot die geloof kom plaasvind. Dus, die verband tussen tot geloof kom en die ontvangs van die Gees word nie hier uitgesluit nie maar juis veronderstel. Die bedoeling van die teks is ook nie om ʼn resep te gee dat jy eers tot geloof kom en dan gedoop moet word en dan eers die Gees sal ontvang nie. Dit sou van die doop iets maak wat dit nie bedoel was om te wees nie. As die ontvangs van die Gees gekoppel sou word aan die handeling van die doop per se, beteken dit dat die ontvangs van die Gees nie moontlik sal wees sonder die handeling van die doop nie. Dit beteken dus dat die doop nie meer net ʼn teken sal wees wat heenwys na die feit dat iemand tot bekering gekom het nie, maar dat die doop as teken self een of ander magiese oordrag van die Gees tot gevolg het. Myns insiens werk die Bybel glad nie met hierdie beeld nie. In die Bybel is die doop ʼn teken wat heenwys na iets wat reeds gebeur het, naamlik dat iemand van die dood na die lewe oorbeweeg het (vgl. Johannes 5:24) en dat dit die teken en seël daarvan is.

In die Bybel self sien ons byvoorbeeld ook die interessante verskynsel dat dit wel gebeur het dat mense tot bekering kom, die Gees ontvang en dan later eers gedoop word. Dit beteken dus dat die ontvangs van die Gees nie afhanklik van die doop is nie, maar dat die ontvangs van die Gees ʼn resultaat of sigbare teken is van die geloof. Vat maar net Paulus se eie bekering. Toe God hom op die Damaskus pad ontmoet en hy drie dae blind gemaak is (sien Handelinge 9), het hy uiteindelik tot bekering gekom, omdat God se Gees hom laat glo het en hy Christus aanvaar het. Kort nadat sy blindheid genees is, is hy gedoop. Paulus het dus duidelik eers die Gees ontvang in en deur die geloof en is eers daarna gedoop. Handelinge 9:17 en verder lui:

En Ananías het gegaan en in die huis gekom en hom (Paulus) die hande opgelê en gesê: Saul, broeder, die Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word. En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en hy kon onmiddellik weer sien; en hy het opgestaan en is gedoop. En nadat hy voedsel gebruik het, het hy weer sterk geword. En Saulus was ʼn paar dae saam met die dissipels in Damaskus. En hy het dadelik Christus in die sinagoges verkondig, dat Hy die Seun van God is.

Daar is nog ander voorbeelde hiervan ook. Ek haal maar Paulus se geval aan omdat hy so ʼn prominente figuur in die vroeë kerk was en omdat die meeste van die tekste oor die doop in Paulus se dokumente voorkom.

Oor die algemeen kan verder aanvaar word dat die Nuwe Testament ʼn eenheid siening het as dit kom by die Vader en die Seun en hulle verhouding. Iets wat in die naam van Jesus gebeur, is by implikasie iets wat in die naam van die Vader gebeur. Die duidelikste voorbeeld van hierdie denkwyse vind ons in Johannes 5 vers 19: “Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so.” Mens kan dus argumenteer dat iemand wat in naam van Jesus gedoop is by implikasie ook gedoop is in die Naam van die Vader (Kyk byvoorbeeld Handelinge 10:48). In Handelinge (vgl. Handelinge 19:1-5) lees ons dat daar gedoop is in die naam van Johannes, maar met die koms van Jesus en die uitstorting van die Gees na Jesus se opstanding en hemelvaart is mense gedoop in die naam van Jesus:

En terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Éfese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind  en hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar ʼn Heilige Gees is nie.  En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes. Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus. En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus. En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.

Hier sien ons nou weer die ander kant van die munt waar mense gelowig word en nie die Gees ontvang het nie  – omdat hulle nie gedoop is in die naam van Jesus nie, maar die doop van Johannes. Die verklaring hiervoor is dat die mense op grond van Apollos se bediening nog nie die volle leer van die evangelie van Jesus gehoor het nie, maar eerder ʼn boodskap van bekering wat nader is aan die leer van Johannes. Paulus hulle het toe vir hulle die volle evangelie vertel en die geestelike dimensie wat met die Jesus-gebeure ingetree het, het toe eers deel van hulle lewe geword.

Ons sit dus hier met verskillende kontekste en mens moet dit eintlik baie fyn bestudeer en nie op dieselfde vlak met ander tekste lees nie omdat dit gewoon nie op dieselfde vlak is nie!

In kort- bekering lei tot die ontvangs van die Gees – maar Johannes herinner dat selfs bekering gebeur omdat die Gees dit bewerk (kyk Johannes 3). Doop is ʼn resultaat van bekering en veroorsaak nie die ontvangs van die Gees nie. Mense kan dus tegnies gesproke die Gees ontvang sonder dat hulle gedoop word. Tog moet mens dit alles as ʼn eenheid sien – bekering – ontvangs van die Gees en die doop moet alles verkieslik in nabye historiese tydsverloop van mekaar plaasvind indien ons die model van die Nuwe Testament wil volg.

 

Outeur: Dr Kobus Kok