Oorlogvoering in die Ou Testament (2)

Oorlogvoering in die Ou Testament (2) – Coen Slabber

Ons het verlede keer na die mure en poorte van stede gekyk. Watter strategieë het aanvallers gebruik om ‘n bres in die muur te slaan?

(a) Direk. Hamers, lanse, byle, spiese en swaarde is gebruik om ‘n gat in die muur te maak. Ongeveer 2 000 vC lees ons van ‘n stormram wat gebruik is. Aanvanklik was dit ‘n lang paal met ‘n skerp punt. Dit was swaar en moeilik om te beweeg, veral as jy die hele tyd aan vyandelike pyle en spiese blootgestel is. Die grond om die muur was dikwels rotsagtig met allerhande versperrings. Dit was moeilik om hierdie stormram tot teen die muur te bring. Daarom is ‘n grondwal tot teen die muur gegooi. Hulle (Joab-hulle) het ‘n beleëringswal teen die stad gegooi (2 Samuel 20:15). Later is mobiele torings van hout gebou waarmee die aanvallers tot naby die muur kon kom. Beleër die stad; bou beleëringswerke, gooi ‘n beleëringswal teen hom op, slaan ‘n kamp op, stel stormramme rondom hom op (Esegiël 4:2 – 3). In Esegiël 26:8 – 9 lees ons feitlik dieselfde, behalwe dat beskermingsdakke teen jou mure en die gebruik van koevoete bygevoeg word. Die hele idee was om so na as moontlik aan die muur te kom sonder om te veel mense te verloor. Die hele tyd terwyl jy nader kom, het die verdedigers van die platform op die muur pyle geskiet en spiese gegooi.

(b) Klouter oor die mure. Hiervoor is lere van tot 9 meter lank gebruik. Soos die mure hoër en dikker geword het en platforms bygevoeg is, het hierdie metode minder doeltreffend geword.

(c) Tonnels onder die muur. Hierdie is ‘n lang proses wat baie tegniese vaardigheid vereis het. Die verdedigers het dikwels agtergekom wat aan die gang is en as die tonnelgrawes in die stad uitkom, is hulle doodgemaak.

(d) Beleg. Dit was dikwels die manier van keuse as die stad op ‘n heuwel geleë was of as die stad se verdediging sterk was. Dit het verhoed dat voorraad – veral kos en water – die verdedigers bereik het. Die stad word basies uitgehonger en uitgedors. Daar is ook baie min risiko vir die aanvallende soldate. So lees ons dat koning Salmaneser van Assirië besluit het om Samaria te beleër: Hy het die stad na drie jaar ingeneem (2 Konings 18:9 – 10).

Dit is duidelik dat in gevalle van beleg die watervoorraad krities sou wees. Om kos te stoor, is makliker as om water te stoor. Vergaarbakke (sisterne) uit klip gekap om die reënwater in op te vang, is algemeen gebruik. Soms is stede op die rant van ‘n stroom gebou. Dit het nie alleen verseker dat daar water is vir die inwoners nie, maar dit was ook ‘n vorm van verdediging.

Meeste stede is egter op heuwels gebou. Hulle waterbronne was dikwels buite die stad geleë en kon deur die vyand afgesny word. Hiervoor het Hiskia ‘n oplossing gehad. Hy bou ‘n dam in die stad, grawe ‘n tonnel van 550 meter deur soliede rots en seël die fontein van Gihon (buite die mure) af. Die water het deur die tonnel tot in die stad geloop (2 Konings 20:20; 2 Kronieke 32:30). Dit verduidelik waarom die Assiriërs nie suksesvol in die beleg van Jerusalem was nie.

Ons lees op ‘n paar plekke dat verspieders gestuur is om eers inligting in te wen voordat ‘n aanval geloods word. Moses kry opdrag van die Here om verspieders in Kanaän in te stuur, onder andere om vas te stel of die mense min of baie, sterk of swak is en of hulle stede versterk is (Numeri 13). Josua stuur verkenners tot in Jerigo – om die land deur te kyk (Josua 2). Hy doen later dieselfde met Ai (Josua 7:2). Ons lees ook dat die Josefstam verkenners na Bet-El gestuur het (Rigters 1:22 – 26).

Om oorlog te maak, het jy ‘n weermag nodig. Hoe het Israel se weermag gelyk? Hierna kyk ons volgende keer.

 

Skrywer: Dr. Coen Slabber