Oorlogvoering in die Ou Testament (3)

Oorlogvoering in die Ou Testament (3) – Coen Slabber

Ons het reeds na vestingstede en maniere om vestingstede in te neem, gekyk. Maar jy het ook mense/soldate nodig. Het Israel ‘n weermag gehad?

Na die uittog uit Egipte was Israel georganiseer in stamme en afdelings. In Numeri 2 lees ons van hierdie kamporde. Hierdie stamme was later die basis vir die militêre orde. In Numeri 31 kry Moses ‘n opdrag van die Here om die Midianiete te straf. Elke stam moes ‘n duisend man stuur om te gaan veg. Ons lees dat daar bevelvoerders oor ‘n duisend en oor ‘n honderd man was. Elke soldaat was onder die beheer van sy eie leiers. Sekere mense is vrygestel van militêre diens: diegene wat ‘n huis gebou en dit nog nie betrek het nie; wie ‘n wingerd geplant het en nog nie van die druiwe geëet het nie; wie verloof geraak het, maar nog nie getroud was nie; diegene wat bang was en gebewe het (Deuteronomium 20:5 – 8).

Hierdie was nie ‘n permanente weermag nie. Sodra daar ‘n krisis opduik, is die manskappe opgeroep. Sodra die krisis verby was, is die manskappe weer huis toe. Die voorsiening van voorrade (byvoorbeeld kos) was die verantwoordelikheid van elke stam. Toe Isai vir Dawid stuur om kos vir sy broers te neem, stuur hy sommer iets saam vir die aanvoerder van die afdeling (1 Samuel 17:18). In Rigters 19:10 lees ons dat 10% van die manskappe uitgesoek is om kos by die volk te gaan haal.

Later kry ons ‘n mate van spesialisering. So was die manne van Bejamin baie bedrewe met pyl en boog en die manne van Naftali met spies en skild (1 Kronieke 12:24 – 38). Die soldate is nie betaal nie, maar het elkeen ‘n deel van die buit gekry.

Eers na die koningskap ingestel is, het Israel ‘n professionele weermag gekry. Saul het vir hom drie afdelings van ‘n duisend man elk uit Istrael gekies as sy leër. Hy was bevelvoerder oor twee afdelings en Jonatan oor een (1 Samuel 13:2). Dit was nodig, want die Filistyne het Israel voortdurend geteister. Later het Saul vir Abner as hoof van die leër aangestel. Die aantal voltydse soldate was maar min, maar Israel het ‘n groot reserwemag gehad (1 Kronieke 27:1 – 15).

Toe Dawid vir Saul gevlug het, het hy ‘n kerngroep van 600 manne by hom gehad. Toe hy koning word, het hy vir Joab as die bevelvoerder van die professionele leër aangestel. Benaja is aangestel oor die koning se Filistynse lyfwag (2 Samuel 8:17 – 18). Dit is interessant dat Dawid nie Israeliete gebruik het vir sy lyfwag nie. Daar word ook elders van huursoldate melding gemaak. Ons lees van Ittai die man uit Gat (2 Samuel 15:19) en Urija die Hetiet (die man van Batseba – 2 Samuel 11:6).

Salomo het ‘n sterk weermag op die been gebring. Hy het 1 400 strydwaens en 12 000 ruiters gehad (1 Konings 10:26). Die perde en waens moes hy invoer uit onder andere Egipte. Dit het baie geld gekos. Hierdie swaar las wat hy op die inwoners geplaas het, was een van die redes vir die skeuring van die ryk.

Laastens kyk ons na ‘n paar spesifieke strategieë wat gebruik is.

(a) Salomo se paleis se fondamente was van groot, duursame klippe van vyf meter en vier meter. Die mure van die groot voorhof rondom is gebou van drie lae gekapte klip en een ry sederhoutbalke (1 Konings 7:10 – 12).

(b) In Josua 8 lees ons van die inname van Ai. Hier volg Josua ‘n interessante strategie. Hy stuur manne om agter die stad plek in te neem. Hy en van die ander manskappe val van voor af aan. Hulle vlug sodra die inwoners van die stad agter hulle aankom. Sodoende lok hulle die verdedigers uit die stad uit. Die manskappe agter die stad sou die stad aanval en aan die brand steek. Eers toe die mense van Ai die rook uit die stad sien trek, besef hulle dat Josua hulle uitoorlê het.

(c) Daar was destyds reeds sprake van sielkundige oorlogvoering. Koning Sanherib van Assirië stuur drie van sy senior amptenare en ‘n groot leërmag om Jerusalem in te neem. Die hoof-adjudant onderhandel met Hiskia se amptenare. Hy praat hard sodat die manskappe op die muur alles kan hoor. Eljakim, Sebna en Joag (Hiskia se amptenare) vra die hoofadjudant om eerder met hulle Aramees te praat, want hulle verstaan dit, maar die manskappe sou nie verstaan nie. Die hoofadjudant weier – hy skreeu hard in Judees (2 Konings 18 – 19). Die hele doel was om die manskappe bang te maak.

Hierdie was ‘n kort oorsig oor oorlogvoering in die Ou Testament. Lesers wat meer inligting verlang, kan enige goeie Bybelse woordeboek gebruik.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber