Oorprofessionaliseer ons evangelisasie?

 

The hard sayings of Jesus are not hard to understand, just hard to swallow. —Steven Lawson

 

Oorprofessionaliseer ons evangelisasie?

Min van ons kan professionele sportmanne wees. Tog neem ons aan sport deel, want ons is lief daarvoor. Wat sou gebeur as daar besluit word dat sport net deur professionele sportmanne gespeel kan word? Ons kan tog nie ‘n algemene praktyk professionaliseer nie. Dit beteken die einde van deelname deur ons gewone sportmanne.

 

Maar in die kerk het ons die algemene praktyk van evangelisasie geprofessionaliseer – tot ons nadeel. Sodra jy iets wat ‘n algemene praktyk is, professionaliseer, onderdruk jy die passie daarvoor by die gewone mense. Die deelname verminder ook. Professionalisering van evangelisasie het gelei tot ‘n afname in passie en deelname. Daarom kry ons dat min gelowiges hulle geloof in Jesus Christus met ander deel.

 

Hoe het die kerk evangelisasie geprofessionalseer? Ed Stetzer noem drie maniere.

  1. Deur personeel in gemeentes aan te stel, het mense die indruk gekry dat jy betaal moet word om evangelisasie te doen. Daarom glo mense dat evangelisasie die verantwoordelikheid van die leraar of ander voltydse personeel is. Evangelisasie in die gemeente is dus beperk tot ‘n paar individue – gewone lidmate raak onbetrokke. Gelowiges moet evangeliseer in hulle werk en daar waar hulle invloed het. Die praktyk van evangelisasie moet gedesentraliseer word. Wat nodig is, is dat lidmate toegerus moet word om die evangelie met ander te deel waar hulle ook al is.
  2. Die kerk het evangelisasie geprofessionaliseer deur te sê dat net sekere mense die gawe van evangelisasie het. Almal het die verantwoordelikheid om te evangeliseer – dit is deel van die taakbeskrywing van elke gelowige.
  3. Die kerk het die indruk geskep dat evangelisasie by die kerk en nie deur die kerk gebeur nie. Ons beklemtoon die praktyk om familie, vriende, bure, medewerkers uit te nooi om ‘n erediens by te woon, sodat hulle die evangelie kan hoor. Die waarskynlikste plek vir evangelisasie in nie by die kerk nie, maar in ons buurt, werk, koffiewinkels, ens. Maar ons moet die lidmate hiervoor voorberei. Lidmate moet verander van ‘n “kom en sien” groep na ‘n “gaan en vertel” groep.

 

Evangelisasie is nie tot professionele, begaafde persone beperk nie. Ook nie tot ‘n spesifieke plek nie. Dit is die taak van elke gelowige en elke omgewing. Gemeentes moet dit kommunikeer en elke lidmaat hiervoor toerus.