Oorwin versoeking (2)

Enemy-occupied territory–that is what this world is. Christianity is the story of how the rightful king has landed, you might say landed in disguise, and is calling us to take part in a great campaign of sabotage. —C.S. Lewis, Mere Christianity

 

Oorwin versoeking  (2)

 Beteken dit nou dat ons nooit weer enige innerlike begeertes sal ondervind wat teen die wil van God is nie? Ons is nuwe mense met nuwe verlangens en begeertes; ons is nuwe skeppings van Jesus Christus; die Heilige Gees is ‘n dominante faktor in ons;  ons het ‘n nuwe identiteit. Die natuur het sy beherende mag verloor, maar hy sal jou steeds versoek. Christene ondervind steeds dieselfde begeertes, maar veg daarteen in die krag van die Heilige Gees.

 

 

Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie (Galasiërs 5:16 – 17).

Ons kan ons sondige begeertes deur die Heilige Gees oorwin, maar dan moet ons toelaat dat ons deur die Heilige Gees beheer word. As ons optree volgens die raad, leiding en bemagtiging van die Heilige Gees, kan ons ons sondige begeertes weerstaan. Versoeking sal daar wees, en dit is nie sonde nie, maar om aan die versoeking toe te gee, is sonde. As ons Romeine 7:15 – 20 lees, sien ons dat Paulus ook met versoeking gesukkel het. Dit is deel van die Christen se pad na heiligmaking. Dit verseker dat daar geen trots by ons is nie.

 

Galasiërs 5:16 sê dat ons lewe deur die Heilige Gees beheer moet word. Hoe doen ons dit?

  • Ons moet besef dat ons hulpeloos is om ons natuurlike begeertes te oorwin, tensy die Heilige Gees ons bemagtig.
  • Ons moet verstaan waarom dit so belangrik is dat ons ‘n nuwe identiteit moet kry. Ons identiteit beïnvloed ons gedrag, gesindheid en emosies.
  • Ons moet aktief die genade wat God ons gee om geestelik te groei, van God aanvaar. In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal (1 Timoteus 6:12).
  • Ons moet die Woord van God lees, daaroor nadink. Die Heilige Gees gebruik die Woord om ons geloof te versterk.
  • Gebed help ons om ons sondige begeertes te oorwin en nuwe begeertes te kweek.
  • Ons moet ons geloof uitleef deur diens. Dit beteken dat ons God se beloftes moet glo.
  • Wees deel van die geloofsgemeenskap waar ons bymekaar kom, die Woord hoor en mekaar versterk.

 

Volgende keer gaan ons na die volgende bron van versoeking kyk: die duiwel.