Openbaring 19 – 21

Openbaring 19 – 21 – Jan van der Watt

Jan vra:

In Openbaring 19: 11 tot 21 word van die perd geskryf met Hom wat daarop sit Getrou en Waaragtig en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. Die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne.Hy is Die Woord van God en die Koning van die konings.Uit Sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid van die toorn van God, die Almagtige. In Openbaring 20 na die duisend jaar sal die Satan uitgaan om die nasies te verlei en hulle te versamel vir die oorlog en hulle getalle sal wees soos die sand van die see. Toe hulle die geliefde stad omsingel, het God vuur uit die hemel laat neerdaal en hulle is verslind en die ou slang is in die poel van vuur gewerp ens. Vraag: Hoekom sou Jesus in die een geval self tot die stryd toetree met die leërs van die hemel en in die volgende geval gooi God vuur uit die hemel om hulle te verdelg. Wat is dan die nut van die verskriklike leermag as God met die roer van ‘n enkele vinger die nodige kan doen, asseblief?

Antwoord

Prof jan van der Watt antwoord:

Hoofstuk 20 is een van die moeilikste hoofstukke om te verklaar in die Bybel, aangesien dit oor die 1000jarige vrederyk handel en hoe dit presies geïnterpreteer moet word, is nie altyd duidelik nie. Jou vraag gaan egter nie daaroor nie, maar oor die feit dat in hf 19 Jesus as die ruiter op die wit perd die finale veldslag teen die duiwel en sy trawante lei en deurvoer terwyl in Hf 20 dit God is.

Om die gedeelte te verstaan moet ons na Open 4-5 gaan waar God as die Koning van die heelal geskets word. Konings in daardie tyd was so sterk as wat hulle diensknegte gehad het om hulle te help. Daarom sien ’n mens God min self optree in Openbaring. Sy engele en diensknegte doen alles – Migael (en nie God of Jesus nie) veg selfs teen die duiwel in Open 12. In Open 5 hou die Koning dan ook ’n boekie in sy hand waarin die geskiedenis wat gaan ontvou, opgeteken is. Niemand wil dit vat nie, want niemand is instaat om die geskiedenis te laat ontvou nie. Jesus is wel en daarom neem Hy die boekie. God werk dus deur Jesus as die Een wat namens hom sy wil op aarde deurvoer.

Strengesproke is dit God wat dit doen, maar Hy doen dit net deur Jesus. (Byna soos ’n amptenaar wat deur sy baas aangestel word om iets te onderhandel en dan verskyn dit in die koerant dat die baas dit gedoen het). Wat Jesus doen en wat God doen, val dikwels saam. Jesus kan iets doen en dan kan gesê word God doen dit en omgekeerd. In Open 19 word die verloop van die finale veldslag beskryf waarin die magte van die bose deur die magte van die God vernietig word – aan die einde van Hf 19 eet die roofvoëls die vleis van die konings van die aarde. In Open 20:7 en verder is die konings skielik weer terug. Hoe kan dit wees? Wel, die verhaal van Open 20 loop parallel met die verhaal van hf 19, hoewel dit later in die verhaal vertel word. (Soos as ons vertel: ons het gaan vakansie gehou by die see en het veilig teruggekom. Piet is natuurlik deur ’n brander omgeslaan… Hoewel die laaste deel van die storie later vertel word, kon dit alleen gebeur het voor ons teruggekom het van die see af en pas dus iewers in die eerste storie in).

Maar hoe rym dit dat in die een geval daar oorlog deur die Ruiter op die wit perd is en in die ander geval vuur wat die geveg beïndig. Ons moet versigtig wees om nie Openbaring letterlike te lees nie. As daar vandag iemand op ’n perd aangery kom om oorlog te maak teen Amerika of wie ook al is die oorlog gou verby. Nee, die wit perd was ’n simbool van ’n oorlogsmag wat net kan wen (wit is die kleur van oorwinning). Tegelykertyd is vuur die simbool van God se vernietigende oordeel. As daar staan dat God mense met vuur straf, beteken dit dat Hy hulle vernietigend straf. Beide simbole of beelde (die van ’n oorlogsperd en van vuur) wil dieselfde sê: God (deur Jesus) gaan die vyand vernietigend verslaan en oordeel.  

Waarom doen God dit nie self nie? Juis in Open 5 sien ons dat sy plan anders werk. Hy gebruik Jesus as die Een wat namens Hom sy wil moet uitvoer. En aan God se planne kan ons nie veel verander nie en nog minder aan God voorskryf wat om te doen.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt