Ouderdom van die aarde

Ouderdom van die aarde – Francois Malan

Jan vra:

My vraag: Volgens Die Bybel se datums en inligting, is Adam deur God geskape 4004 jaar voor Christus, maar Die Bybel in Praktyk (CUM) noem in hul kronologiese geskiedenisbeeld dat Jerigo reeds 6000 vC bewoon was? Albei kan tog nie waar wees nie?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:
Die Bybel gee nie datums oor die hele geskiedenis van Israel en die voorgeskiedenis voor Abraham aan nie, maar jaartalle van persone se lewe om daarmee ‘n boodskap oor God se bemoeienis met elkeen van hulle oor te dra. Nêrens word gesê dat Adam 4004 v.C. geskape is nie. Die Bybelskrywers uit die tyd van Salomo, en later tydens die ballingskap in Babilon en daarna het gebruik gemaak van mondelinge oorlewerings, ou geskrifte, geslagslyste, ens. om God se handelinge met Israel te boek te stel.

Die Bybel is nie bedoel as ‘n handboek vir die wetenskap nie, ook nie vir die geskiedeniswetenskap nie; maar om ons van God te leer, hoe Hy met sy skepping en sy mense deur die eeue gewerk het, hoe hulle daarop gereageer het, en hoe Hy hulle na Hom toe teruggebring het, en nog steeds terugbring, om Hom te ken, om saam met Hom en vir Hom te lewe in die wêreld wat Hy vir ons geskep het, soos Hy ons bedoel het.

Wie egter uit die Bybel bv. ‘n volledige geskiedenis van Israel, of ‘n biografie van Jesus wil aflei, en daaruit ‘n datum van Adam tot Christus wil bereken, word telkens teleurgestel. Daar is leemtes wat nie met gissings aangevul kan word nie, daar is teenstrydighede wat nie opgelos kan word nie. Die Ou Testament is nie ‘n bron waaruit die geskiedenis van Israel as volk en van hulle godsdiens beskryf kan word volgens die vereistes van geskiedskrywing nie, maar is die bron vir die geskiedenis van God se openbaring van sy pad met sy volk Israel. Die Evangelies is ook nie ‘n bron vir ‘n lewensbeskrywing van Jesus nie, maar ‘n getuienis oor sy persoon en werk, wat in die res van die Nuwe Testament toegepas word op die lewe van sy nuwe volk, naamlik sy kerk. Baronius het lank gelede al gesê: die Skrif sê nie hoe dit in die hemel gaan nie, maar hoe ons na die hemel toe gaan. Die Bybel is nie ‘n handboek vir die wetenskap nie, maar vir die wetenskaplikes van hoe om God te dien in die beoefening van hulle wetenskap. Dit gaan in die Skrif wel oor historiese gebeure in die geskiedenis van mense en nasies, maar die fokus is op hulle gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid aan God.

Die wetenskap is egter deel van God se opdrag aan ons, dat ons sy skepping sal navors (ook die mens as deel van die skepping, en die geskiedenis van die mensheid en sy kultuur) en daaruit die grootsheid van God en sy werke beter leer ken, hoe die wêreld wat God geskep het lyk en werk, en hoe Hy die wêreld onderhou en daaroor regeer; en om die kennis aan te wend om God en mekaar te dien (vgl. Romeine 1:20 ‘van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie.’). Daarom is die opdrag in Genesis 1:28 ‘bewoon en bewerk die aarde’, Genesis 2:15 sê: ‘Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas’, Genesis 2:19-20 vertel dat die mens name gee aan die skepsels as middel om die veelheid van verskynsels te leer ken en te beheers (1:28). Jesus sê die grootste gebod in die wet is: ‘Jy moet die Here jou God liefhê…ook met jou hele verstand’ wat jy moet inspan om God daarmee te dien, en om ‘jou naaste lief te hê soos jouself’ (Matteus 22:37b; 39b).

In 1952-58 het ‘n span van die Britse Skool van Argeologie onder leiding van Kathleen Kenyon die 65 voet hoë heuwel, Tell es-Sultan, buite die huidige Jerigo opgegrawe tot op die rotsbodem. Aan die voet van die heuwel is ‘n fontein, die huidige oase Eriha, wat afloop na die Jordaanrivier toe. Die fontein het die eerste bewoners van Jerigo rondom die jare 8,000 v.C hierheen gelok. Verbrande hout van ‘n soort tempeltjie wat op die rotsbedding gebou is het ‘n koolstof-14 datum van ongeveer 7,800 v.C getoets.  Halfmaanvormige vuurklip gereedskap en been harpoene verbind hulle aan die gereedskap wat ook uit die ongeveer 8,000 v.C. in 1924-1934 opgegrawe is in die grotte langs die rivierloop Wadi el-Natuf naby berg Karmel.

Teen 7,000 v.C. is hier ‘n groot stad van 7.8 akker gebou met ‘n muur wat in een seksie tans nog tot 17 voet hoog staan rondom die stad met ronde huise. Aan die westekant was ‘n toring, wat 25 voet in deursnee is en tans nog 23 voet hoog staan, met trappe wat van die stad af na die toring toe lei. Houtskool planke van ‘n huis in hierdie stad het ‘n koolstof-14 datum van ongeveer 6,850 v.C. getoets.

Die koolstof-14 toets werk so: alle lewende organismes neem deurentyd koolstof uit die atmosfeer op, gelyke dele gewone koolstof met 12 atoom protons en radio-aktiewe koolstof met 14 protons. Wanneer die organisme sterf word geen verdere koolstof opgeneem nie en die radio-aktiewe koolstof-14 in die organisme neem geleidelik af. Na 5,600 jaar is die helfte daarvan oor, na nog 5,600 jaar die helfte van die helfte, ens. So kan bv. die ouderdom van hout of bene bepaal word deur die verhouding tussen die C-12 en C14 in monster van die hout of houtskool of bene wat opgegrawe word te bepaal.

 

Skrywer: Prof Francois Malan