Paasfees in Galilea: Jesus die brood van die lewe (6:1-71)

Paasfees in Galilea: Jesus die brood van die lewe (6:1-71) – Francois Malan

In hierdie hoofstuk word twee natuurwondertekens vermeld, daarna twee gesprekke, dan ‘n lering oor die Brood van die Lewe, en weer twee gesprekke. Dit begin by die see van Galilea en eindig in Kapernaum. Waar die sabbat die aanknopingspunt van die gesprek oor die gesag van die Seun in hoofstuk 5 was, is die Paasfees, wat Israel se bevryding uit Egipte en behoud van hulle eersgeborenes herdenk, die aanleiding tot die gesprek oor die redding uit die mag van die dood, van die Seun wat gekom het om die weg tot die ewige lewe te open in hoofstuk 6. Die vermeerdering van die brood wek die verwagting van ‘n nuwe eksodus met lewende brood uit die hemel, en van die offerdood van die Lam van God, wie se liggaam geëet en sy bloed gedrink moet word (Johannes vertel nie van die instelling van die nagmaal  nie).

(6:1-15)

            Johannes sê nie waarom Jesus daarheen gegaan het nie. Mark 6:30-32 sê: ‘Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus ‘n bietjie’ – na ‘n baie besige tyd waarin mense aanmekaar na hulle toe gekom en gegaan het. Mat.14:13 sê: ‘Jesus het met ‘n skuit daarvandaan (uit die gebied van Herodes Antipas) weggegaan na ‘n stil plek om alleen te wees’ – nadat Herodes Antipas vir Johannes die Doper laat onthoof het.

 

Jesus word deurgaans gevolg deur ‘n skare wat die genesingswonders gesien het, wat Hy deurentyd gedoen het (waarvan Johannes slegs enkele beskryf het, Jn 20:30,31). Hulle volg Hom blykbaar om nog wonders te sien.

 

Jesus gaan die berg op – dit is die bergwêreld van Jordanië, met baie berge in die omgewing. Waarskynlik om sy dissipels te leer.

 

Die pasga, die fees van die Jode, was naby. Dit vorm die agtergrond vir die gesprekke wat volg.

 

Jesus aanvaar die versorging vir die groot getal volgelinge. Jesus toets Filippus se vertroue in Hom om ‘n menslik-onmoontlike situasie op te los. Filippus het reeds ‘n aantal wondertekens van Jesus gesien, maar sy berekening van die koste wys sy menslike denke. Twee honderd dinarii (een dinarius was die dagloon vir ‘n arbeider) sal nie genoeg wees om vir elkeen ‘n klein stukkie brood te koop nie.

 

 

Vir Jesus is dit nie ‘n verleentheid nie. As gasheer laat Hy die mense in groepies sit, waarskynlik gesinne bymekaar, met omtrent 5,000 hoofde van gesinne. Nadat Hy God gedank het vir die voedsel, deel Hy die brood en die vis uit, sonder beperking van die hoeveelheid wat elkeen kan kry nie.

 

 

Die mense sien hierdie wonderwerker as die ideale koning om hulle te lei teen die Romeine. Hulle wil Hom met geweld koning maak, maar Jesus weerstaan die versoeking om ‘n aardse koning te word, wat sy goddelike mag misbruik vir geweld en vir sy eie eer. Hy is nie so ‘n aardse Messias koning nie. Hy gaan alleen hoër op teen die berg (Mk 6:46 en Mt 14:23 sê: ‘om te bid’).

 

Skrywer: Prof Francois Malan