Paulus se Atene

“Your emptiness is but the preparation for your being filled, and your casting down is but the making ready for your lifting up.” C. H. Spurgeon

Paulus se Atene

Paul Copan en Kenneth D. Lidwak ( The Gospel in the Marketplace of Ideas) gebruik Paulus se besoek aan Atene (Handelinge 17) om gelowiges te help om in so ‘n multikulturele wêreld die evangelie te verkondig. Hulle vergelyk Atene in Paulus se tyd met ons eie wêreld en vind heelwat ooreenkomste.  Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.

Paulus se strategie was om die Romeinse hoofroete te volg (in hierdie geval die Via Egnatia, ‘n militêre pad) en die evangelie in die hoofstede te verkondig. Paulus was in Berea toe opstokers hom verdryf het. Die gelowiges neem hom na Atene waar hy dan vir Silas en Timoteus wag.

 

Atene was steeds ‘n belangrike sentrum vir intellektuele en kulturele beoefening. Dit was een van die groot universiteitstede van die destyds bekende wêreld. Die goue jare van Atene was van die sesde tot die vierde eeu vC. Atene staan bekend as dié stad wat die grootheid van die Griekse kultuur bewaar het. Die stad het nie enige betekenisvolle politieke mag gehad nie, maar was steeds die plek waarheen jy sou gaan as jy meer van die Griekse kultuur wou leer. Dit was nie ‘n groot handelsentrum nie.

Atene was ook bekend vir sy godsdienstige toewyding. Die naam van die stad is afgelei van dié van die Griekse godin – Atena. Suid-oos van die Areopagus kry ons die Akropolis waar daar baie tempels geleë was. Die bekendste was die Parthenon, ‘n tempel gebou ter ere van die godin Atena. Net langs die Parthenon was daar ‘n tempel gewy aan Roma en Augustus – bedoel vir keiseraanbidding. Paulus was baie verontwaardig toe hy al die afgodsbeelde in die stad gesien het.

Atene was veral bekend as die sentrum van Griekse filosofie. In ongeveer 385 vC het Plato sy bekende Akademie in Atene gevestig. Aristoteles het hier gestudeer. Paulus het ook die Epikureërs en Stoïsyne hier raakgeloop.

Is daar enige ooreenkomste tussen Paulus se Atene en ons wêreld?