Paulus se brief aan die Filippense (Fil 2:5-11) – Francois Malan

Die voorbeeld van Christus se nederigheid (Fil 2:5-11)

Die pragtige loflied oor Christus se selfvernedering en opoffering van Homself en sy verhoging deur God, is die
grondbeginsel van ons geloof. Dit wys duidelik die verkeerde verhoudings onder die Filippense, en hoe onmisbaar
noodsaaklike optrede vir Paulus is, wat in 1:24 en 2:3-4 beskryf word. Die hoogtepunt van die brief is Christus se
dieptepunt van sy lyding. Die gedeelte het baie vertaalprobleme omdat sinne nie alles duidelik uitspel nie.

2:5 ‘Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees:’

Die gesindheid van Christus wat in 2:6-8 uitgespel gaan word, staan teenoor die selfsug, ydelheid en eiebelang waarteen
Paulus die gemeente in 2:3-4 waarsku.

Die sin handel oor wat die gesindheid van die gemeentelede onder mekaar moet wees, hoe elkeen in die gemeente se
gesindheid teenoor die ander in die gemeente moet wees.

fronéō bedink, optree, gesindheid, word in Romeine 8:5 van elke gelowige gebruik: ‘Wie volgens hulle sondige aard
leef, bedink (fronéō) immers die dinge van die sondige aard, maar diegene wat volgens die Gees leef, bedink (fronéō)
die dinge van die Gees. In Filippense, waar dit veral gaan oor die eenheid van die gemeente, gaan dit veral oor die
gesindheid teenoor mekaar in die gemeente.

‘wat daar inderdaad (kaí) in Christus Jesus (was/is).’ 2020 laat kai uit. ‘Inderdaad’ beklemtoon die gesindheid van
Christus Jesus. As ‘was’ by gedink word, verwys dit na wat Jesus met sy menswording moes prysgee. As ‘is’ by gedink
word, beskryf dit Christus Jesus se aard as die nederige God. In Matteus 11:29 sê Jesus: ‘Ek is sagmoedig en nederig
van hart.’

Paulus hou Christus se gesindheid vir die gemeente en gemeentelede voor as voorbeeld en maatstaf vir elke gelowige se
denke, optrede en gesindheid. Die gesindheid wat Paulus in 2:2-3 beklemtoon, word hier verduidelik as die gesindheid
van Christus wat nagevolg moet word. Almal wat in Jesus Christus glo, behoort al meer volgens sy gesindheid te lewe,
om soos Paulus te kan sê ‘vir my om te lewe is Christus’ (1:21).

Hier gaan dit veral oor Christus se nederigheid en selfprysgawe as voorbeeld vir elke gelowige oor hoe hulle in ’n
gemeente nederig saam behoort te lewe. Christus is nie net ’n voorbeeld en die maatstaf nie, maar ook die bewerker van
die gemeentelede se liefde vir mekaar en van hulle eenheid as gemeente of liggaam van Christus in die wêreld.

2:6 ‘Hoewel Hy in die gestalte van God was,
het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie.’

Paulus se beskrywing van Christus begin met sy identiese goddelike gestalte (en morfê theou hupárchō – morfê verwys
na die natuur en wese, wat meer as die gestalte behels, wat ons nie kan deurgrond nie; hupárcho beteken reeds om
identies te wees. Sy gestalte wys na die majesteit en heerlikheid van sy goddelike bestaan in die ewigheid saam met die
Vader. Daarin stem Paulus saam met Johannes 1:1 ‘In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die
Woord was God.’ In 1 Kor 8:6 sê Paulus: ‘Vir ons is daar één God, die Vader, uit wie alles is en ons vir Hom, en één
Here, Jesus Christus, deur wie alles is en ons deur Hom.’ In Johannes 17:5 bid Jesus die aand voor sy kruisiging en
verwys na sy hemelvaart: ‘En nou, Vader, verheerlik My by U, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die
wêreld bestaan het.’

Christus het egter sy gelykheid aan God nie beskou as iets waaraan Hy moes vasklou nie (ouch harpagmòn iets wat
met geweld behou word of met geweld afgeneem word), maar wat Hy in liefde vir die mensdom prysgegee het.

2:7a ‘maar Hy het Homself daarvan leeggemaak,
deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word,

Hy het Homself prysgegee – dit was nie sy lot of onder dwang nie, maar sy eie keuse en wil. In sy soewereine goddelike
vryheid het Hy sy goddelike gestalte van heerlikheid afgelê (kenóō heeltemal leegmaak), alle aspekte van sy hoë status,
sy voorregte en regte as God.

Uit eie keuse word Hy ’n mens wat die gestalte van ’n slaaf aanneem, sonder enige regte of voorregte. In Romeine 8:3
stel Paulus dit nog skerper: ‘…in die gestalte van ’n sondige mens (sarkos hamartias ’n mens wat deur sonde beheers
word)….’ Johannes 1:14 sê: ‘…die Woord het mens geword (sarks ’n lewende mens, die menslike natuur met die klem
op fisiese aspekte daarvan) en onder ons kom woon…’ Jesus het Hom ten volle met die mensdom kom identifiseer.
Soos ’n slaaf, was Hy die voete van sy dissipels (Joh 13:5). Sy eie getuienis was: ‘Die Seun van die mens het nie gekom
om gedien te word nie, maar om te dien (diakonéō) en sy lewe te gee as losprys vir baie’ (Mark 10:45; Matt 20:28; vgl.
Luk 22:27). Hebreërs 2:17: Omdat Hy oor Abraham se nageslag besorg is, ‘daarom moes Hy in elke opsig gelyk word
aan sy broers, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue Hoëpriester kon word om as offer te dien tot versoening van die volk
se sondes.’ Hebreërs 4:15: ‘Want ons het nie ’n Hoëpriester wat nie medelye met ons swakhede kan hê nie, maar Een
wat, soos ons, in alle opsigte versoek is, en dit sonder dat Hy gesondig het.’

In Filippense 2:3 het Paulus verwys na kenodoksía, die leë roem/trots of selfsugtige ambisie van gelowiges in Filippi.
Daarteenoor staan Jesus as dié voorbeeld van nederigheid vir sy volgelinge. Hy het Homself leeggemaak (kenóō) van sy
ware goddelike gestalte en ’n mens geword sonder enige roem, ‘in doeke toegedraai en in ’n krip neergelê omdat daar
nie vir hulle plek in die huis se bokamer was nie’ (Luk 2:7 katalúma bokamer Luk 22:12). Gegesel, met die doringkroon
op sy kop en ’n purperrooi mantel om, het Pilatus hom aan die skare voorgestel met: ‘Kyk daar is die mens!’ (Joh 18:5).
So lyk ons geweldgeteisterde mense met wie Hy Hom kom vereenselwig het.

2:7b ‘En toe Hy in die vorm (schêma) van ’n mens verskyn het (eurískō gevind is, verkry het),
2:8 het Hy Homself verneder deurdat Hy gehoorsaam geword het tot die dood toe, ja, die dood aan die kruis.’

Toe Hy as mens in die wêreld gekom het, het Hy Homself verneder, nie soos die Filippense wat volgens vers 3 streef na
aansien, eer en hulle regte nie. Sy hele lewe word gekenmerk deur selfoorgawe, selfverloëning, selfopoffering, en
gehoorsaamheid tot die dood – die mens se laaste vyand (1 Kor 15:26). Daarvoor het Hy sy lewe gegee as ’n losprys vir
baie (Mark 10:45); gehoorsaam aan God en God se verlossingsplan vir die mensdom. Deur sy dood dra Hy God se straf
op die mens se ongehoorsaamheid aan God (vgl. Gen 2:16).

In sy staat as mens wat Hy aangeneem het, verneder Hy Homself verder tot die lydensbeker van die dood aan die kruis
(Mark 10:38; 14:36), die wreedste en vernederendste straf om naak aan ’n kruis vasgespyker te word (Mark 15:24; Joh
20:25). Dit is die diepste vernedering van die Skeppergod wat as misdadiger saam met misdadigers gekruisig word en
deur God verlaat word (Mark 15:27,34). In Lukas 22:37 het Jesus verwys na Jesaja 53:12 wat in Hom vervulling moet
vind: dat Hy ‘by oortreders gereken is.’ Hy sterf met die woorde van Ps 22:1 ‘My God, my God, waarom het U My
verlaa?’ Jesus het die lydensbeker van sy dood aanvaar. Markus 14:36 ‘..nie wat Ek wil nie, maar wat U wil’ was die
toppunt van sy gehoorsaamheid aan God om Homself te gee in sy diens van en vir die mensdom.

Hebreërs 5:9-10 beskryf sy sterwe as die volmaaktheid van sy gehoorsaamheid, die volmaakte offer as Hoëpriester, vir
almal wat aan Hom gehoorsaam is, as die bron van ewige verlossing. Romeine 3:25 sê: God het Hom daargestel as ’n
versoeningsoffer in sy bloed wat deur geloof in Hom verkry word. In Hom het ons die bevryding deur sy bloed, die
vergewing van ons oortredings (Ef 1:7).

Jesus se volmaakte oorgawe aan die wil van sy Vader is die voorbeeld van nederigheid wat Paulus aan die Filippense
stel as die voorbeeld vir elke gelowige volgeling van Jesus (Fil 1:5 ‘..dieselfde gesindheid wat in Christus Jesus was’).