Paulus se oorredende benadering in Atene

 

If our purpose in attending church is to meet with God, then we dare not approach with carelessness. —John Sartelle

Paulus se oorredende benadering

Paul Copan en Kenneth D. Lidwak ( The Gospel in the Marketplace of Ideas) gebruik Paulus se besoek aan Atene (Handelinge 17) om gelowiges te help om in so ‘n multikulturele wêreld die evangelie te verkondig. Hulle vergelyk Atene in Paulus se tyd met ons eie wêreld en vind heelwat ooreenkomste.  Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.

Paulus staan op die Areopagus asof hy ‘n boodskapper van vreemde gode is (17:18).  Hy moet die God wat hy verkondig verdedig. Die gesindheid van die filosowe was nie positief nie – Paulus tree hier voor ‘n vyandige gehoor op.

 

In hierdie toespraak is daar geen direkte aanhaling uit die Skrif nie. Tog kom sy boodskap uit die Skrif al gebruik hy aanhalings van Griekse digters en filosowe – wat baie mense in die gehoor aanvaarbaar sou vind. Tog as ons na verse 24 – 31 kyk, is elke vers gebou op die Skrif. Paulus gebruik die woorde van die Griekse filosowe om Bybelse waarhede oor te dra.

Kom ons kyk nader na Paulus se benadering.

  • Paulus wys dat hy bewus is van die Ateners se vroomheid: Ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die plekke waar julle aanbid (17:22 – 23).
  • Paulus gebruik die waarnemings wat hy in die stad gedoen het as vertrekpunt om sy gehoor se misplaasde godsdiens te hanteer:hy vertel hy het ‘n altaar aan die onbekende God gesien (17:23).
  • Omdat God die wêreld en alles daarop gemaak het, kan Hy nie in ‘n gebou, veral nie een wat deur mensehande gemaak is, vasgevang word nie (17:24).
  • God het niks van mense nodig nie – Dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee (17:25). Ons kan niks vir Hom gee nie, want Hy het reeds alles.
  •  God het al die nasies uit een mens gemaak en daarom behoort almal aan God. Hy stel die seisoene vas; Hy stel grense vir mense – hoe lank en waar hulle gaan woon. Hy werk aktief onder die mense (17:26).
  • God het ‘n doel met die mens: God het hulle gemaak om Hom te soek (17:27). Hierdie is nie net ‘n intellektuele soektog nie – dit is ‘n soeke in reaksie op God se selfopenbaring. Hy is nie ver van mense wat Hom soek nie.
  • Dit is toepaslik om God te soek, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons (17:28).
  • Omdat die mens deur God gemaak is en deur Hom lewe, is dit tog onsinnig om beelde van Hom te maak wat nie lewe of beweeg of asemhaal nie: Dit is bloot skeppinge van menslike vaardigheid en verbeelding (17:29). Dit kan tog nie verteenwoordigend van Hom wees nie.
  • In die verlede het God tye van onkunde oorgesien. Nou roep Hy alle mense op om hulle te bekeer tot die een ware God. Hoekom? Op ‘n dag gaan Hy regverdig oor die wêreld oordeel (17:30a)
  • God gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het. God bevestig sy rol as Regter deurdat Hy Hom uit die dood laat opstaan het (17:30b).

As ons mense wil oortuig moet ons ‘n kultuur-relevante vertrekpunt kry.