Paulus se vervolging van Christene

Paulus se vervolging van Christene – Jan van der Watt

Erika vra:

Hoekom het Paulus die Christene vervolg? Wat was dit wat die Joodse geloof en reëls en Fariseërs gehad het teen Jesus in Paulus se tyd? As ek dit reg verstaan het Paulus se vervolging van Christene plaasgevind omdat hulle in Jesus geglo het. Tog het hulle rede gehad om in Jesus te glo, want hy was toe reeds op aarde gewees, gekruisig en het opgestaan. Oorlewing moes dit tog so oorgedra het aan die Jode in Paulus se tyd? En hoekom moes die Christene doodgemaak word? Kon hulle nie maar soos vandag keuses gehad het nie?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Ons lees van die eerste vervolgings reeds vroeg in Handelinge – van hoofstuk 6:8 af begin ons daarvan lees. Hoofstuk 7 vertel van Stefanus wat die eerste Christen martelaar was en in hoofstuk 8 lees ons hoe die Christene moes vlug vir hulle lewens. Die rede vir die vervolgings lees ons al in Handelinge 6:8-15. Van die Jode het gevoel dat Jesus se boodskap hulle tempel en wet bedreig het. Ons weet Jesus het gesê dat Hy die tempel gaan vervang (sy liggaam gaan die tempel word). In Matteus 5 en elders lees ons ook dat Jesus die wet anders interpreteer het as die Jode en ons lees verder op baie plekke dat Jesus die Sabbat nie gehou het soos die Jode dit gedoen het nie. Jesus het die dinge anders gesien. Die Jode het gevoel dat dit laster is en deur sake so bietjie aan te dik met valse getuienis het hulle die Christene se name deur die modder begin sleep en gesê dat hulle teen die Joodse godsdiens is en teen God laster. Nou het dit so gewerk dat die Romeine (wat die politieke heersers was) die Jode toegelaat het om oor hulle eie godsdienstige en kulturele sake self te besluit wat om te doen. Hulle Raad (waarvan ons ook in Handelinge 6 lees) het die reg gehad om mense wat teen die godsdiens oortree, reg te sien en dit is juis wat hier gebeur. Hulle het selfs met die Romeinse Ryk ʼn ooreenkoms gehad om mense wat in die buiteland hulle godsdiens skade aandoen te gaan vervolg. Daarom kon Paulus na Damaskus gaan om die Christene daar te gaan vervolg. Damaskus was nie in Israel nie en tog kon Paulus die Christene daar gaan vervolg.

 

Dit was onder andere hierdie oordrewe manier waarop die Jode aan hulle manier van godsdiensbeoefening vasgeklou het wat gemaak het dat hulle Jesus misgekyk het. Ons kry baie plekke in die Nuwe Testament waar die Christene self maar net wonder waarom die Jode nie glo nie – hulle het al die bewyse voor hulle en nogtans het hulle nie reageer nie. Lees maar Romeine 9-11 of Johannes 12:37-42 om agter te kom hoe die Christene met die probleem geworstel het.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt