Perspektief op gebed (16) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

Op die skoot van God aan die gesels.

 Deel 1: Vra wat jy wil… maar wie se wil?

Gebed ‘werk’ nie! En nou?

Een van die grootste probleme wat mense met gebed het, is hoe God gebede beantwoord. Wat presies gebeur met gebed?

Is dit soos ‘n geldoutomaat waarin ons ons versoeke inpons en die outomaat moet maar net reageer? Of is dit dalk soos ‘n bedelaar wat maar langs die pad sit en vra  met die hoop dat iets na sy kant toe sal kom? Of werk dit miskien soos ‘n belastingvorm wat jy indien maar nooit seker is wat daar gaan uitkom nie? Ja-nee, wat is gebed presies as dit by die vraslag kom?

Soos ons reeds gesien het, is een van ons grootste probleme inderdaad ons verwagtings wat nie altyd met ons ervarings strook nie. Nou die dag hoor ek van ‘n jong meisie wat uit slegte huislike omstandighede kom. Sy het blykbaar lank en innig gebid dat die probleme in die huis moet verander, maar alles het nog maar dieselfde gebly. ‘Gebed dus nie gewerk nie, nou rook ek maar’, sê sy. Rook help darem ‘n bietjie, want dit verlig die spanning. So ‘n gebedservaring maak dit sekerlik baie moeilik om maar weer en weer te bid as jy voel dat dit nie gaan werk nie. En gedeeltes soos Joh 14:14: ‘As julle iets in My naam vra, sal ek dit doen’, maak hierdie ervarings ook nie makliker verstaanbaar nie. So ontwikkel gebed maklik in ‘n onverstaanbare vraagteken.

Daar kan natuurlik allerhande antwoorde en verduidelikings aan die meisie vir haar ervaring gegee word. Een ding bly egter seker. Aan haar ervaring en vertwyfeling kan ons nie veel verander nie – dit het gebeur. En daar is duisende ander gelowiges wat met dieselfde frustrasie sit, miskien nog uself.

Die meeste misverstande rondom gebed ontstaan egter omdat ons nie altyd reg dink oor hoe ons in gebed moet vra en wat ons moet verwag nie. Ons dink òf God is ‘n outomatiese teller òf ‘n belastinggaarder of wat ook al. Dit is belangrik om mooi na te dink oor wat ons presies sê as ons sê dat God ons gebede verhoor.

Die net van God se wil wat  jou gebede opvang

Die Bybel is nie skaam om te sê dat ons van die Here dinge moet vra nie. Hierdie uitnodigings wemel in die Bybel. Kom ons kyk na ‘n paar van hierdie uitnodigings:

So sal die Vader aan julle gee

wat julle ook al in my Naam vra.

(Joh 15:16)

 Bid en julle sal ontvang.

(Joh 16:24)

 As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem

en daaroor bid,

sal my Vader wat in die hemel is,

hulle dit laat kry.

(Mat 18:19)

 Vra, en vir julle sal gegee word;

(Mat 7:7)

Op sig self lyk hierdie beloftes van die Here baie duidelik. Ons moet vra en Hy moet gee! Maar is dit wat presies bedoel word?

God se wil…

As ons weer ‘n keer na hierdie en ander uitsprake kyk, kom ons ‘n interessante ding agter. Die meeste van hierdie uitsprake word gekwalifiseer: die persoon wat bid moet vra volgens die wil van God. Kyk byvoorbeeld na 1 Joh 5:14:

 Nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan

omdat Hy ons gebede verhoor

as ons enigiets volgens sy wil vra.

In Mat 7:11 word dit op ‘n ander manier gestel:

As julle wat sleg is,

dan weet om goeie dinge vir julle kinders te gee,

hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is,

goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?

 God het duidelik ook ‘n sê in wat ons bid. Hy is nie ons kelner of bediende wat maar net opdragte uitvoer nie. Inteendeel, Hy is ons Vader en God. Hy gee ons nie sommer enigiets nie, maar wat volgens sy wil goed is. God besluit dus hoe Hy gebede wil beantwoord.

Wat beteken dit? ‘n Kind wat probleme met sy maag het en lekkers vra gaan waarskynlik net sieker word. Sy ma sal vir hom liewer medisyne gee. ‘n Ma bekommer haar oor die welsyn van haar kind. Sy sal nie iets doen wat haar kind skade kan aandoen nie. Ook die teenoorgestelde is waar: ‘Watter mens sal vir sy seun ‘n klip gee as hy brood vra of ‘n slang as hy vis vra?’ (Mat 7:9-10). God sal jou nie doelbewus probeer benadeel nie. As jy van Hom iets vra en Hy gee jou ‘n ander antwoord as wat jy verwag het, probeer Hy jou nie ‘spite’ nie. God weet wat vir jou die beste is en so sal Hy op jou gebede reageer. Sy wil is die net waarin ons gebede opgevang en geweeg word.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt