Perspektief op gebed (19) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

Deel 3: Wat kan ‘n mens alles van God vra en vir wie mag jy bid?

Op verskillende plekke in die Bybel staan daar vir wie en oor wat kan jy alles bid. Jy kan vir jouself bid, vir jou familie en mede-gelowiges, wel, selfs vir jou vyande! Net soos ‘n mens oor enigiemand mag gesels, so mag ‘n mens ook met God oor enigiemand praat.

Maar dit is nou nie die einde van die storie nie! HOE jy met God oor jouself en ander gesels, is ook weer ‘n ander saak!

Here, ek wil U iets VIR MYSELF te vra. Mag ek?

Kom ons gesels eers ‘n bietjie oor dinge wat ek vir MYSELF wil vra.

Ons het reeds gesien dat jy met gebed nie voor ‘n lekkergoedmasjien staan nie. Jy gesels met die lewende God wat saam met jou by jou saak betrokke is en wil wees. Met ander woorde, in gebed soek jy na ‘n antwoord waar jou wil God se wil ontmoet.

Dit sê eintlik iets baie belangrik vir ons oor die manier waarop ons dinge vir onsself van God moet vra. Van ons word verwag om dít te vra wat tot voordeel van God en sy koninkryk is! Ons moet mos eers sy koninkryk soek… (Mat 6:33).

Wat beteken dit in die praktyk? Kan ek vir ‘n nuwe kar vra? Hoe weet ek of dit in die belang van die koninkryk is? Of wat van hulp met ‘n saketransaksie wat nou nie soveel te doen het met die koninkryk nie? Kan ek regtig vir God vir daardie mooi ring vra wat ek so begeer? Want sien, die ring gaan nou nie eintlik die koninkryk so geweldig bevorder nie, maar ook darem nou nie die koninkryk in duie laat stort nie. Eintlik maak dit nie soveel saak nie?! Mag ek nou vra of mag ek nie?

Jy mag darem iets vra!

Ons het nou reeds gesien dat gebed eintlik ‘spanwerk’ tussen jou en God is. Binne die ‘atmosfeer’ van God wat tevrede moet wees met wat jy doen, kan jy maar gesels en vra. Die probleem kom eintlik by ‘neutrale’ dinge of dinge wat ‘vir jouself’ is, soos die ring of die kar.

Verwysings na gevalle in die Bybel waar ‘n persoon eintlik net vir hom of haarself vra, is skaars. Dit is moontlik so omdat God eintlik maar by alles van ons op een of ander manier betrokke is. Tog kry ons in 1 Sameul 1 die aangrypende verhaal van Hanna wat vir ‘n kind bid. Sy smeek dat die Here tog aan haar moet dink en haar nie vergeet nie (vers 11). Uiteindelik het die Here hierdie kreet uit die hart van die vrou gehoor. Hy het aan haar Sameul gegee wat Hy later self wonderlik in sy koninkryk gebruik het. Ook ons kan met ons gebed en smekinge na Hom kom (Fil 4:6). Hy luister ook na die versoeke en begeertes wat soos saad in ons harte ontkiem. Hy pluk die plante wat so groei nie uit nie, maar vang dit in sy reën en sonskyn op.

Om juis hierdie punt te onderstreep het Jesus mos self  gesê dat dit ondenkbaar is dat iemand van sy vriend brood sal vra en dat sy vriend sal weier. Jy jaag net nie ‘n vriend met ‘n billike versoek weg nie, al kom dit ook op watter ongeleë tyd (Vgl. Luk 11:5-9). Hoe sal God dit dan nou doen.

MAAR, wat ewe waar is, is dat die Here nou nie vir ons enigiets gaan gee wat ons vra nie. Hy gaan aan ons iets gee wat vir ons goed is. Ons kan vra, maar God sal besluit. In daardie gesindheid moet ons dus vra. Ons kan God nie dwing of forseer nie. Ons kan van Hom ons daaglikse brood vra, omdat ons van Hom afhanklik is. Wat goed is, kan ons van Hom verwag.

Ons hoef nie regtig onseker of skaam te wees om vir die Here iets te vra nie. Tegelyk moet ons ook nie ongeduldig wees as die Here iets anders sou besluit nie. Ons moet vertrou dat Hy die beste weet en dat alles uiteindelik tot ons eie beswil sal gebeur. Ons weet mos dat ons lewe in die hand van God is. Wat se sin het dit nou ook vir ‘n Christen om sy lewe uit die hand van God te probeer haal deur God te probeer forseer om te doen wat hy of sy wil? Nee wat, gelowige, vertrou maar die Here, ook met dit wat jy van Hom vra!

Waarskuwingstekens by gevaarlike plekke

Die Bybel sê dus dat ‘n mens darem nie roekeloos met die vraery kan aangaan en dan verwag dat die Here moet ‘spring’ nie. Daarom het God by die gevaarlike plekke waarskuwingstekens opgesit. Hierdie gevaartekens het eintlik almal met ons gesindheid in gebed te doen. Dit gaan oor die manier waarop ons bid.

* Kyk wat sê die Here in Jak 4:3:

 As julle bid ontvang julle nie,

omdat julle verkeerd bid:

Julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig!

As die enigste persoon wat jy wil bevoordeel net jyself  is, en jy wil selfs ander mense benadeel daardeur, moet jy mos nie dink dat God vreeslik opgewonde gaan wees oor jou gebed nie! Dit sê Jesus self ook in Mat 6:5. As jy self die middelpunt van jou gebed begin raak, loop sake skeef.

* Jakobus gaan ook verder. Hy sê ook:

Nader tot God en Hy sal tot julle nader.

Was julle hande, sondaars,

en reinig julle harte, huigelaars.

(Jak 4:8)

Oor sondebelydenis het ons alreeds gesels. Die Here hou glad nie daarvan as ons met verkeerde motiewe  en veral met ‘n klomp sonde op sy skoot kom sit en dan ons lysie vrae in sy hand stop nie.

Of  jy met ‘n slegte gesindheid bid of nie, sal jy waarskynlik die beste kan sê. Dit sê iets prakties vir die manier waarop jy moet bid. As jy jou sake met die Vader bespreek, moet jy ook gedurig vir jouself afvra waarom jy nou juis hierdie dinge vra. Wat is jou rede? As jou motief lelik of negatief of darem uit en uit selfsugtig is, moet jy dit nie vir God ‘moeilik maak’ nie.

* Verder moet ons ook darem dit wat realisties is vra. Die Here gaan nie oornag al sy kinders kitsmiljoenêrs maak nie. Nee, ons erfdeel hou Hy vir ons in die hemel. Dit help ook nie om God heeltyd vir dinge te vra wat duidelik teen sy plan ingaan nie. Toegegee, die plan is nie altyd so duidelik nie! Maar elkeen van ons wat die pad al saam met die Here gestap het, sal weet hoe en waar Hy ook met jou wil loop.

Kom ons kyk sommer na ‘n moeilike voorbeeld. Jy het voor die kansel vir die Here gesê dat die man of vrou wat jy daar mee trou van Hom af kom. Dit was sy plan met jou lewe. Nou help dit nie om elke aand voor jy gaan slaap vir die Here te bid om van die man of vrou ontslae te raak nie. Ons weet mos dat die Here niks van die idee van skei hou nie. Nee, ons moet onsself liewer binne die raamwerk van God se plan tuisvind. Wees realisties! Bid liewer positief vir jou huweliksmaat.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt