Perspektief op gebed (21) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

Op die skoot van God aan die gesels.

Deel 4: Praktyk toe: in die labratorium van God

Paulus was in die tronk toe hy die brief aan die gelowiges in Filippi geskryf het. Dáár het hy seker lang ure met God in gebed deurgebring. Geen wonder dat een van die mooiste beskrywings van ‘n gebed juis in die Filippensebrief voorkom nie. Dit is die moeite werd om na Fil 4:6-7 van naderby te kyk.

Raak jy besorg? Praat dit uit!

Paulus begin in Fil 4:6 deur te verwys na ‘besorgtheid’. Dit is as jy begin bekommerd raak. Jy begin voel dat die beheer van dinge uit jou hande begin glip. Jou eie planne en oplossings begin klaar raak en jy begin wonder hoe verder?! Die beste teken hiervan is as die bekommernis soos ‘n muskiet in jou kop begin draai. Jy kan omtrent nie aan iets anders dink nie. In die dag praat jy gedurig daarvan en in die nag hou dit jou wakker.

As dit so gaan, sê die Here, is daar net een paadjie wat jy moet loop: na die troon van God in gebed. Gaan praat met die Here oor jou probleem of besorgtheid. Jy kan jou begeertes in gebed en smeking aan God bekend maak. ‘As daar iemand onder julle is wat swaarkry, moet hy bid’ (Jak 5:13).

* Hier praat Paulus van jou ‘begeertes’. Dit gaan oor die dinge wat in jou hart aangaan. Die Here wil hoor wat jy dink en wil hê. Hoe jy die probleem sien, wat jy daarvan dink, watter oplossings daar is… dit alles wil die Here hê moet jy op jou gebedsagenda sit.

* Verrassend word die woord ‘smeking’ hier saam met gebed gebruik. Smeking is nie om maar een maal te vra en dan te los nie. Dit is soos ‘n seuntjie wat ‘n koekie uit sy ma net voor ete wil hê. Hy gesels, dink planne uit, vra nou so en dan so. Hy vertel van die holte diep in sy maag wat nie deur pampoen en booontjies volgemaak sal word nie. Dis die spesiale plek vir koekies. Dit is met ander woorde om jou probleem op ‘n intense manier met God deur te gesels. Jy moet aanvaar dat Hy jou probleem net so ernstig neem as jy self! Daarom moet jy dit met Hom uitgesels. Jesus het selfs ‘n gelykenis daaroor vertel van die weduwee wat die magistraat aanhoudend oor ‘n saak lastig geval het (Luk 18:1-8). Uiteindelik het die magistraat aan die versoeke van die vrou toegegee. Daarmee wou Jesus nie ‘n onverbiddelike hardkoppigheid in gebed voorskryf nie, maar ons aanmoedig om met Hom intens oor sake te praat sonder om moedeloos te word.

Eintlik sou ‘n mens dink dat om te bid dat die wil van die Here geskied, nie plek laat om ook met Hom te worstel nie. Nee, worsteling met die Here oor sake het ‘n plek. Soos ons reeds gesien het, is gebed die plek waar ons wil die wil van die Here moet ontdek. In gebed  moet jou wil in die wil van die Here vloei. Die Here wil hê dat jy saam met Hom, in gesprek met Hom, antwoorde op jou vrae sal soek en vind.

 Dankie Here, ek weet U luister.

In Fil 4:6 staan daar dat ons ons begeertes met danksegging aan God bekend moet maak. Wat hier staan is dat terwyl ons vra, ons al dankie moet sê vir wat gaan gebeur! So absoluut moet ons op God vertrou. Ons neem ons saak immers na die beste Advokaat toe. Hy is ook ons Vader! As iemand ons saak goed sal kan behartig, dan is dit Hy!

As jy jou saak voor Hom stel moet jy dus reeds WEET: jou saak is in die beste hande moontlik. Daar sál iets ten goede gebeur. As jy dan met ‘dankie’ op jou lippe opstaan van jou knieë af, is dit met  ‘n geloofsbelydenis. Jy vertrou die Here volkome en jy aanvaar wat Hy vir jou gaan doen. Jy het nou net met Hom in gebed oor oplossings geworstel, maar uiteindelik laat jy dit met dankbaarheid in sy hande.

Die vrede gaan my verstand te bowe!

Die resultaat van so ‘n gebed kan net vrede wees. Jy het jou saak met die beste en belangrikste Advokaat bespreek. Jy weet Hy gaan jou saak ten beste oplos. As jy van jou knieë af opstaan en uit sy ‘kantoor’ stap, voel jy dat jy jou probleme op die beste moontlike plek kon los. Dit is soos iemand wat op ‘n verlate pad met sy kar gaan staan het en self nie eers mooi weet aan watter kant die enjin sit nie. Die donker kom nader. In so ‘n situasie loop die besorgtheid maar dik. Skielik stop daar ‘n ander motor in ‘n stofwolk langs hom. Die man maak sy kattebak oop en haal ‘n yslike kas gereedskap uit. Dit is die plaaslike motorwerktuigkundige! Op daardie oomblik smelt die besorgtheid in die motoris weg soos sjokolade in ‘n honger tiener se mond… skielik maar lekker! Die kar is nog nie reg nie, maar jy weet dit is nou net ‘n kwessie van tyd. Die kar is in die regte hande!

So is dit ook met gebed. As jy van jou knieë af opstaan is die probleem waaroor jy gebid het nog nie opgelos nie. Daar moet nog heelwat gebeur. Nogtans voel jy vrede. Dit is vrede wat iemand anders nie sal begryp nie. Om die waarheid te sê, dit gaan jou verstand te bowe. Ook jy kan dit nie mooi verklaar en uitredeneer nie, maar dit is daar. En die rede is omdat God dáár is. Jou probleem is in die beste hande moontlik. Wat sal dit jou nog help om bekommerd te wees? Wat sal dit help. Jy vertrou mos op die Here. Wys dit ook vir Hom deur Hom ook met jou probleme volledig te vertrou!

Leef in die vrede wat die vertroue op God jou gee, al verstaan jy dit nie altyd nie. In Jesus het God mos aan jou bewys dat Hy jou liefhet. Daaraan hoef  jy nooit te twyfel nie.

Leef positief.

Die besorgtheid en probleem wat soos ‘n muskiet in jou kop rondgezoem het, moet dus in gebed in vrede verander. Daarvoor moet jy God vertrou. Maar as daar nou niks meer is wat in jou kop ‘rondzoem’ nie, wat nou?

Alles wat waar is,

alles wat edel is,

alles wat reg is,

alles wat rein is,

alles wat mooi is,

alles wat prysenswaardig is

– watter deug of lofwaardige saak daar ook al mag wees –

daarop moet julle julle gedagtes rig.

(Fil 4:8)

In plaas daarvan om te sit en top oor alles wat verkeerd is of wat nog verkeerd kan gaan, moet ons liewer aan dit wat mooi en reg is dink. As jou gedagtes vol van die mooie is, waaroor sal jy dan die graagste praat? Wat sal vir jou die belangrikste wees? In die opsig moet gebed dus ook ons lewens verander, positief verander.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

image_pdfimage_print

You may also like...