Perspektief op gebed (25) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

Deel 3: God, besluit U maar, maar oppas!

Gebed is nie ‘n agterdeur nie!

Soms wil mense nie aanvaar dat God ons deur ons verstand lei nie. Hulle wil ‘n spesiale ‘teken’ hê, soos Gideon se velletjie in die dou. Maar oppas dat hierdie ‘tekens vra’ nie jou manier word waarmee jy van God jou slaaf wil maak nie. Oppas dat jy Hom nie so aan jou besluite wil bind nie!

Hoe gebeur so iets? Heel maklik. Sonder dat ons dit eintlik mooi besef, trap ons in die strik! Ek moet ‘n besluit neem oor iets belangriks, kom ons sê of ek van werk moet verwissel. Ek voel ietwat onseker oor die saak. Daarbenewens wil ek graag doen wat die Here verwag. Nou begin ek bid. Uit my goeie bedoelings kom die versoek van die Here om my in die saak te lei. Hy moet vir my wys wat Hy verwag! Sonder dat ek dit dikwels besef, onttrek ek myself hier en plaas al die verantwoordelikheid op God. Hy moet nou sê wat moet gebeur en sommer ook die verantwoordelikheid daarvoor neem! Ek hardloop ‘weg’ en laat God met die besluite agter! Hy moet besluit en sommer sorg dat alles reg gaan.

Dan kom die volgende ‘fase’ van hierdie ‘afpersingsproses’. As die Here besluit wat moet gebeur, moet Hy darem ook instaan vir die sukses van die besluit. So ontsnap ek van alle verantwoordelikheid. Ek probeer God verplig om ’borg te staan’ vir my besluit. Iemand vertel my (die ware verhaal) van ‘n persoon wat ‘n nuwe huis wou koop. Op een of ander manier het hy gevoel die Here het hom gelei om dit te doen. Die prys van die huis was egter heeltemal bo sy vuurmaakplek. Teen alle redelikheid in koop hy die plek, want hy het mos een of ander ‘teken’ van God ontvang. Na ‘n ruk was sy geldsake natuurlik heeltemal in chaos. Toe draai hy om en sê: ‘Here, U het mos gesê ek moet die huis koop. Nou toe, U is besig om U huis te verloor!’ Daarmee het hy natuurlik sy eie verantwoordelikhede lekker ontduik. Hy kon die vinger reguit en beskuldigend na God wys! Die gemors waarin hy nou is, is mos God se skuld. God het dan gesê… God is nou die slegte een terwyl die man maar net die ‘goeie gelowige’ is. Hy wou mos maar net aan die Here gehoorsaam wees en kyk waar is hy  nou!

Ons mag miskien ons kop vir hierdie man skud, maar oppas! Wat hierdie man gedoen het is ‘n baie algemene fout in gebed. Die grens tussen werklike gehoorsame gebed en ‘n poging om God te probeer manipuleer is soms baie dun!

God is nie omkoopbaar nie! ‘n Mens hoor soms van mense wat allerhande beloftes aan God maak as God net iets belangriks vir hulle doen. Die gedagte daaragter is mooi as die ‘iets’ wat die persoon terug wil doen uit dankbaarheid is. Maar as daardie ‘iets’ ‘n omkoopgeskenk word, is dit ‘n perd van ‘n ander kleur. Dink wat lê daaragter. Daaragter lê die veronderstelling dat ek iets het wat God so graag wil hê dat Hy bereid is om ‘n ruiltransaksie aan te gaan. Verbeel jou, die lewende God, die Skepper van alles staan verleë voor my? Iemand wat met so ‘n gesindheid bid dink dat hy of sy God kan manipuleer. Eintlik is manipuleer nog ‘n te mooi woord. Die persoon wil God afpers! Oppas om nie die antwoord van God op gebede so te wil manipuleer nie!

Hierdie pogings tot manipulasie van God is onaanvaarbaar. Ons kan Hom nie so in die kettings van ons eie wil vasbind nie. Ons kan Hom ook nie gebruik om ons eie wil so te legitimeer nie. Gebed is nie die agterdeur waardeur ons ons verantwoordelikhede kan ontglip deur alles op die skouers van God te laai nie.

Gebed doen iets aan JOU, onthou!

Gebed is nie die laaizone waar ons stilhou om alle verantwoordelikhede op die skouers van God te gooi nie. Net so min is dit ‘n maklike manier om alles gedoen te kry. Ek kan nie daar bevele aan God uitdeel en dan verwag dat God eenvoudig moet reageer nie. Ek moet onthou dat God deur my werk. Ons het reeds gesien dat as ek bid vir sy koninkryk om te kom, dit onder andere deur my moet kom. Gebed doen dinge aan jou en op díe manier ook vir jou.

God antwoord ook dus jou gebede deur jou eie bereidheid om gebruik te word vir die oplossing van ‘n probleem. Neem byvoorbeeld jou gebed om die verhoudinge beter te maak by die werk. Pieter het sy mes in vir jou en boikot jou om elke hoek en draai. As jy nie self  bereid is om iets aan die stukkende verhouding te doen nie, sal jy miskien voel dat die Here te min doen! Maar is die feit dat die Here so ’min’ doen nie dalk sy antwoord aan jou nie? Is jy nie dalk die onwillige een nie?

Ek kan dus nie vir dinge bid waarvoor ek nie ook myself tot beskikking van God stel om dit te laat gebeur nie. As ek bid dat God my sal help met my finansies, moet ek weet dat my eie bereidheid om iets daaraan te doen deel van God se antwoord is. Dit help nie jy bid vurig dat God iets daaraan moet doen, maar jy gaan onverantwoordelik voort nie.

Dit beteken nie dat God nou van ons afhanklik gemaak word nie. Allermins. Natuurlik kan God op ‘n bonatuurlike manier ingryp as Hy wil. Hy het dit ook al telkens in mense se lewens gedoen. Maar as Towenaar wil God nie bekend staan nie. Hy wil nie alles vir ons reg ‘toor’ nie. Hy wil wel as ons Vader bekend staan. ‘n Vader doen nie alles vir sy kind nie, maar leer sy kind om dinge self te doen. Die Vader wys hoe, leer hom, help hom. Gebed is inderdaad ook so ‘n  leerskool van God!

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

image_pdfimage_print

You may also like...