Perspektief op gebed (5) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

Al geselsende met God.

‘n Gesprek is ‘n gesprek.

Gebed is ‘n gesprek. Natuurlik is dit ‘n baie spesiale gesprek, maar dit bly ‘n gesprek. Daarom is die gewone dinge wat van ‘n gesprek waar is, ook van gebed waar.

‘n Gesprek het nie ‘n vaste patroon nie. Soms sit ‘n mens sommer net lekker oor ditjies en datjies en gesels. By ander geleenthede bespreek ‘n mens ‘n enkele ernstige saak intens. As jy iemand dringend moet gaan roep, bestaan julle gesprek miskien net uit: ‘Kom gou!’ So wissel gesprekke soos die geleenthede en onderwerpe wissel.

Net so min as wat ‘n gesprek altyd ‘n vaste patroon moet volg, net so min moet of hoef gebed altyd ‘n vaste patroon te volg. Soms as jy in die nood is, help ‘n vinnige skietgebed sommer baie. As jy weer ‘n ernstige probleem het, val jy sommer met die deur in die huis   en vra God se raad of hulp. Dan gebeur daar weer iets wonderliks in jou lewe wat maak dat jy net oor en oor vir God wil dankie sê. Nie een van hierdie gebede is ‘minder gebed’ as die ander een nie. Dit is mos almal gesprekke met God.

Tog kom ons uit die Bybel agter dat gebed soos ‘n diamant baie pragtige kante het. Daar is byvoorbeeld aanbidding, lof, smeking, belydenis van sonde en so aan. Al hierdie elemente hoef natuurlik nie in elke gebed voor te kom nie. Tog moet ‘n mens versigtig wees dat jy nie een van die ‘elemente’ verwaarloos nie. Jy moet vir jouself geleentheid maak om nie alleen dinge van God te vra nie, maar Hom ook te loof of jou sonde te bely. Oor al hierdie ‘elemente’ gaan ons nou verder gesels.

‘n Gesprek en nie ‘n monoloog nie.

God sit nie swygend en luister na jou wat ‘n monoloog voer nie. Soms bid ons asof ons dink dat God stom is. Ons dink dat Hy in gebed niks te sê het nie. Niks is natuurlik so ver van die waarheid af nie.

God praat op baie maniere met ons. Dit gebeur nie met ‘n bulderende stem uit die hemel nie. Nee, God praat soms op maniere waarop ons dit nie verwag nie. Elia het God in die magtige stormwinde verwag; toe kom God na hom toe in die sagte dartelwindjie. Die Jode het ‘n groot kryger as messias verwag wat elke Romein in die see sou injaag. God beantwoord egter hulle gebede met die Messias aan ‘n kruis! Net so praat God op verrassende maniere met ons tydens gebed. Daaroor later meer.

Daar is tog een manier waarop God met ons praat wat ons nie kan miskyk nie. Dit is deur sy Woord, die Bybel. Augustinus se ma was ‘n wasvrou. So, met die nat, vuil klere tussen haar hande geklem het sy vir haar seun gebid terwyl hy saam met sy maats in die poele van plesier gebaai het. Dit was egter deur die woorde van Romeine dat God hierdie eenvoudige wasvrou geantwoord het. God het Augustinus viervoet in sy spore gestuit, en dit deur die krag van sy Woord. Dáár hoor ‘n mens God se stem op sy helderste. Dit het Luther ook agtergekom. Hy het in sielewroeging teen homself en die sonde gestry. Dit was egter die Woord van die lewende God wat hom uit hierdie kettings van die Satan kon bevry. God het Luther se pleitende gebede gehoor en geantwoord – deur sy bevrydende Woord.

Gebed en Bybelstudie hoort bymekaar soos wolke en reën. Deur getroue en biddende Bybelstudie leer ons meer en meer van die wil van God ken. Daar leer ons ook hoe en waarvoor om te bid. Deur vurige gebed lei God ons ook in die diepste geheimnisse van sy Woord in. Daar ontdek ons weer sy wysheid.

Daaroor gaan  nie meer gesê word nie. Die belangrikste is om te beklemtoon dat ons geestelik sensitief moet wees vir God se antwoorde op ons gebede deur sy Woord. Daarin is ons ook baie afhanklik van die bystand en hulp van die Heilige Gees.

In die dialoog nie alleen nie

Elke gelowige het natuurlik die Gees van God in hom of haar. Daarom leef  kinders van God in die kragveld van die Heilige Gees. Dit geld veral ook vir hulle gebede. Geen wonder dat Paulus in Gal 4:6 sê: ‘En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: “Vader!” Die Gees lei ons nie alleen in ons lewens nie, maar ook in ons gebede. Uit ons harte roep die Gees ook na die Vader, soos Paulus sê.

Dit is alleen in afhanklikheid van die Heilige Gees dat gebed sy volle diepte kan bereik. Dit is die Gees wat jou bewus maak van jou oortredings en jou in jou sondebelydenis lei. As jy in jou nietigheid voor die genadetroon van God staan, is dit die Gees wat jou ondersteun. So laat die Gees ook die lof vir God oor jou lippe vloei.

Om die waarheid te sê, dit is dikwels juis in gebed dat ‘n mens die teenwoordigheid van die Gees in jou lewe die diepste aanvoel. Die teenwoordigheid van die Heilige Gees omvou elke woord van jou gebed. Dit is God se Gees wat in jou en saam met jou uitroep: ‘My Vader in die hemel!’

Dit gaan nie weer by die bespreking van elke ‘element’ van gebed herhaal word nie. Alles wat verder van gebed gelees word, moet in die besef gelees word dat dit deur die krag en teenwoordigheid van die Gees alleen geskied!

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

 

image_pdfimage_print

You may also like...