My perspektief op gebed

 

Paul  wants the church to be a proclaiming church not a complaining church C. J. Mahaney.

 

My perspektief op gebed

Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word (Johannes 14:13)

Ons moet ons perspektief oor gebed verander. Die doel van gebed is nie die vervulling van ons wense nie, maar die verheerliking van God. Bogenoemde vers word dikwels verkeerdelik gebruik. Daarom verlaat mense die kerk, want hulle glo dat hulle gebede nie beantwoord is nie – God het hulle in die steek gelaat.

 

Hoekom antwoord God ons gebede? Nie sodat ons lewens beter kan wees nie of sodat on meer geld kan hê nie. Hoekom dan? Die vers sê dit vir ons: sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. Ons bid nie om iets terug te kry nie. Al beantwoord God nie my gebed nie, moet ek steeds weet dat Hy my liefhet – ek moet steeds glo. My geloof in God berus nie op wat Hy vir my doen of nie doen nie. My geloof berus op wat Jesus reeds vir my aan die kruis gedoen het. Dit is afgehandel.

 

Ons interpreteer Johannes 14:13 verkeerd en word gefrustreerd met God omdat Hy nie ons gebede antwoord nie, want ons het die verkeerde perspektif op gebed. Ons maak onsself die hoofkarakters in ons gebede in plaas van God. Gebed is nie ‘n sleutel om toegang te kry tot dit wat ek begeer nie. In gebed eer ek vir Jesus wat vir my toegang tot God gegee het. As ek voor God staan en ek gebruik die Naam van Jesus het ek toegang tot God – Jesus gee vir my daardie toestemming.

 

Hoe ek na my gebed kom, is ook belangrik. Ons verhoudings, motiewe, geloof en God se wil maak saak as ons bid. In hierdie verband help 1 Johannes 5:14 ons ook: En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. Ons kan nie vir God vra wat ons wil hê en eis dat Hy dit vir ons moet doen nie as dit nie volgens sy wil is nie.

 

Gebed is nie ‘n wenslysie nie; gebed is die manier waarop ons God leer ken en Hom verheerlik.