Politieke onrus en Vrees

 

Thank God that He doesn’t wait until we take an interest in Him before He takes a profound interest in us by His grace. —Eric Alexander

Politieke onrus en Vrees

[Hierdie blog is gebaseer op Overcoming Fear uit The Collected Sermons of Dietrich Bonhoeffer vertaal in Engels deur Isabel Best en gepubliseer deur Fortress Press in 2012.]

 

Sê nou daar is ‘n skip op die oseaan. Die skip sukkel, want die golwe is hoog. Die wind waai al hoe harder. Die skip is klein en word soos ‘n speelding rondgeslinger. Die lug is donker; die matrose word moeg. Dan word een van hulle vasgegryp deur …wie? wat? … hy kan nie sê nie. Maar iemand is op die skip wat nie vantevore daar was nie … Skielik kan hy niks sien of hoor nie; hy kan nie meer roei nie; ‘n golf oorweldig hom. Desperaat skreeu hy: Vreemdeling in die boot wie is jy? En die ander een antwoord dat hy Vrees is. Daar is geen hoop meer nie. Vrees is in die boot.”

Op 15 Januarie 1933 lewer Dietrich Bonhoeffer hierdie skrikwekkende allegorie in ‘n preek in ‘n kerk in Berlyn.

 

Duitsland was midde in ‘n vreesaanjaende tydperk. Die mense onthou nog die vernietiging van die Eerste Wêreldoorlog net 14 jaar vantevore. Die aandelebeurs het in 1929 in duie gestort. Meer as ses miljoen mense was werkloos. Daar was geen politieke stabiliteit en leierskap nie. Baie Duitsers, ook Christene, vrees vir die toekoms.

Naakte vrees is in die boot, in Duitsland, in ons eie lewens, in hierdie kerk – vrees vir die toekoms.”

 

Daar was nog ‘n leier wat die vrees van die mense raakgesien het. Hy help nie die mense om hulle vrees te oorwin nie, maar buit dit uit. Hy bied vir hulle ‘n verlosser aan: hyself. Vyftien dae na Bonhoeffer se preek maak die land hierdie man, Adolf Hitler, hulle Kanselier. Vrees het Duitsland in dieper pyn, verdeeldheid en wanhoop gedryf.

Hierdie is die finale oorwinning van Vrees oor ons – ons is te bang om daarvan weg te hardloop en laat toe dat dit ons verslaaf. Vrees het ons oorwin.”

Ons onthou Bonhoeffer vir sy radikale dissipelskap en opofferende betrokkenheid by die Duitse weerstand teen Hitler. Hy het geglo dat wat sentraal in sy lewe en bediening was, was om die liggaam van Christus te voed deur die verkondiging van die woord. Hy het omgegee vir die geestelike lewe en gesondheid van die plaaslike gemeente. Sy doktorale proefskrif –  Sanctorum Communio – gaan oor die kerk as ‘n heilige gemeenskap.

 

Bonhoeffer praat in ‘n atmosfeer van vrees en onsekerheid met ‘n boodskap van hoop – ‘n boodskap wat die kerk steeds moet uitdra. Geen mens is buite die bereik van vrees nie. Vrees vul ons met eensaamheid, hopeloosheid en wanhoop. Dit dryf ons na besluite en optredes wat negatiewe gevolge het. Hoe doen vrees dit?

Dit hol ons binneste uit totdat ons weerstand en krag op is. Vrees eet alles wat ons aan God en aan ander bind weg. In tye van nood as ‘n mens uitreik na daardie bande  breek hulle. Die individu sink in homself weg – hulpeloos en wanhopig.”

Vrees besoedel ons denke, verwring ons oordeel en ons sukkel om teen die bose staande te bly. As vrees domineer, skei wantroue, haat en selfsug ons van ons Skepper en ons naaste. Vrees het steeds dieselfde krag as in Bonhoeffer se tyd. Ons staan steeds voor die alledaagse vrese wat ‘n gebroke wêreld kenmerk – terrorisme, verlies aan godsdiensvryheid en waardes, misdaad, ens.

 

Vrees diskrimineer nie – dit ken geen grense van tyd of plek nie. Bonhoeffer verwys dan na Matteus 8:23 – 27 – Jesus maak die storm stil. Die verhaal eindig waar Jesus die wind en die see hard aanspreek en dit het doodstil geword. Hy vra vir hulle: Waarom is julle bang, kleingelowiges?  As alle hoop verdwyn het en vrees die boot oorneem, openbaar Christus sy teenwoordigheid en mag oor vrees. Dan is dit of die hemele oopgaan en ons die uitbasuin van oorwinning hoor te midde van die hopeloosheid. Christus is in die boot. Vrees verdwyn; die wind en see word stil; alles is stil, want Christus is in die boot.

 

Christene word nie van die storms van die lewe vrygestel nie. Daarom het ons die kerk nodig. Die kerk is die plek waar ons Christus hoor: “Ek is saam met julle in die boot.” Daarsonder sal ons na ander stemme luister wat vir ons vertel dat daar geen hoop is nie – geen uitweg nie. Maar vrees is oorwin – moenie bang wees nie. Jesus het die wêreld oorwin en Hy is saam met ons in die boot. Hierdie taal moet ons in die kerk hoor. Die kerk is ons vuurtoring in die storm van vrees war ons weglei van die rotse met die skerp lig wat op Christus gefokus is.

 

As ons deur vrees oorweldig word, is ons geneig om ons af te sonder. Maar ons moet ons pad deur alles maak –  ons pad saam met Christus.

 

Wanneer ons geloof swak is, herinner die kerk ons dat dit nie die krag van ons geloof is wat ons deur ons vrese dra nie, maar die krag van ons Verlosser. In tye van wanhoop as ons glo dat God ons verlaat het en nie meer vir ons omgee nie, plaas die kerk die kruis voor ons en vra: “Het God Hom verlaat?’ Omdat God nie vir Jesus verlaat het nie, sal Hy ons ook nie verlaat nie.

 

Ons weet daar is hoop. Hierdie hoop is: “Laat u wil geskied.” Die kerk herinner ons aan God se goeie doel vir ons lewens, sy liefde vir sy kinders en sy mag om vrees te oorwin. Dit bied aan ons ‘n alternatief om in ons vrese vasgevang te wees.

Die Bybel, die evangelie, Christus, die kerk, geloof – almal een strydkreet teen vrees in die lewens van mense.”

As ons bang word, as ons alleen en hulpeloos voel, sal die kerk ons daaraan herinner dat Christus saam met ons in die boot is.