Positief in die wêreld

Positief in die wêreld – Jan van der Watt

Chris vra:

Hoe kan ek as Christen positief in hierdie wêreld raak ? ( Hierdie wêreld is Suid-Afrika ) As wit, persoon is dit half onmoontlik. Ek bid elke dag vir wysheid.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hierdie is ʼn baie relevante vraag: Hoe bly mens positief? In ʼn sekere sin is ʼn mens baas van jou eie lewe. As ek dit sê, moet ʼn mens onthou dat daar soms dinge gebeur waaraan jy net mooi niks kan doen nie. In sulke situasies moet jy maar net aan jouself werk sodat die situasie jou nie oorweldig nie. Kyk na jouself, want die Here verander nie noodwendig slegte situasies nie, maar verander wel mense om die slegte situasies te hanteer en staande te bly in die situasies.

Die lewe gaan baie oor wat jy self daarvan maak. Jy kan besluit of iets vir jou belangrik is of nie. As jy besluit iets is vir jou belangrik sal dit jou baie pla as daar iets mee verkeerd gaan. Een persoon kan baie ontsteld raak as die doppie nie op die tandepastabuis gedraai is nie en sal selfs daaroor baklei, terwyl iemand anders nie eers ʼn oog sal knip nie. Hoekom? Die probleem lê nie by die tandepasta nie, maar by die manier waarop die twee persone die tandepastabuisie en doppie sien. Vir die een is dit belangrik dat die doppie op is, en as dit nie is nie, vererg hy hom vreeslik. Vir die ander een maak dit nie saak nie en daarom pla dit hom glad nie. Dit gaan dus oor jou instelling en gesindheid.

Ons moet sorg dat ons die dinge wat rondom ons gebeur reg waardeer. Ons moet ons nie te veel bekommer oor dinge rondom ons wat nie belangrik is of waaraan ons nie veel kan doen nie. Dit maak ons net ongelukkig. Ons moet eerder die lewe met die regte waardes benader. ʼn ‘Waarde’ is iets wat vir ons waarde het en dus belangrik is. Ons moet die regte dinge wat regtig belangrik is in ons lewe belangrik maak. Neem Paulus as voorbeeld: hy was in die tronk toe hy die brief aan die Filippense geskryf het. Uit hoofstuk 1 lei ons af dat daar baie dinge verkeerd gegaan het en dat hy swaargekry het, selfs tot op die punt dat hy gedink het hy gaan dood (lees gerus Filippense 1). Tog is Filippense die brief van blydskap (kyk Filippense 4:4) en nie die brief van moedeloosheid nie. Waarom? Dit lees ons in Filippense 3 – daar sê Paulus dat dinge wat voorheen vir hom belangrik was, nie meer belangrik is nie. As daar dinge gebeur, pla dit hom nie. Wat nou vir hom belangrik is, is Jesus en om soos Hy te wees, al beteken dit dat dinge mag swaar gaan. Dit moet jou nie onderkry nie, want die belangrikste is dat jy aan Jesus behoort. Dit moet jou belangrikste ‘waarde’ wees. Daarom sal baie van die gewone dinge jou nie meer so ontstel nie. Dit beteken nie dat jy jou oë daarvoor toe hou nie, maar net dat jy jouself nie meer daaroor ontstel nie, want jy besef dit is nie so belangrik nie. Daar is ander dinge, Jesus se dinge, wat belangriker is.

 

Moenie ʼn maagsweer oor die verkeerde dinge kry nie!

 

Outeur: Prof Jan van der Watt