Prof Hermie van Zyl

Prof Hermie van Zyl

 

Lewensloop:

Hermias Cornelius van Zyl (geb 6 Junie 1947) matrikuleer in 1965 aan die Hoërskool Wonderboom in Pretoria. Hy studeer daarna aan die Universiteit van Pretoria en behaal die grade BA, BD en DD.hc_van_zyl

Hy dien vir vier jaar as predikant in die NG Kerk Farrarmere, Benoni. Daarna is hy vir ses jaar dosent in Nuwe Testament by die Fakulteit Teologie, Unisa, Pretoria. In 1985 aanvaar hy ‘n pos as senior lektor by die Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat. In 1987 word hy professor, en in 1988 hoof van die dept Nuwe Testament. Van 2003-2008 dien hy as dekaan van die Fakulteit. Hoewel formeel afgetree, is hy tans weer op kontrakbasis aangestel as hoof van die dept Nuwe Testament. Hy is ook aangewys as hoofredakteur van Acta Theologica, geakkrediteerde tydskrif van die Fakulteit.

Van 1989-1995 was hy redakteur van Neotestamentica, vaktydskrif van die Nuwe-Testamentiese Werkgemeenskap van SA, en van 1995-2000 voorsitter van die redaksieraad van Neotestamentica. Hy was betrokke by verskeie publikasies van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA), naamlik Verwysingsbybel: 1983-Vertaling (voltooi 1998) en Die Afrikaanse Bybel vir Dowes (voltooi 2007). Tans dien hy as vertaler vir die BSA se nuwe projek: Die Bybel in Afrikaans (aanvang 2007). Hy was ook medewerker aan Die Bybellennium (CUM) wat met die Andrew Murrayprys bekroon is in 2000. In 1996 bring hy ‘n navorsingstyd van drie maande deur by De Katholieke Universiteit Leuven, België. Hy is lid van die internasionale vakvereniging, The Society of Biblical Literature.

Hy is tans Voorsitter van die Streeksraad (Bloemfontein) van die BSA. Hy is verder programleier van Die Bybel in Perspektief, ‘n program oor die verstaan van die Bybel by die streekradiostasie van Bloemfontein, Radio Rosestad.