Psalm 12 (2)

 

I’m not afraid of failure; I’m afraid of succeeding at things that don’t matter. —William Carey

 

Psalm 12 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

 

12:5 – 6: Mensewoorde teenoor God se woord.

Hulle wat sê: “Danksy ons tong is ons sterk; ons lippe is onder ons beheer, niemand is ons heer en meester nie.

6Vanweë die geweld teen die magteloses, die gesug van die behoeftiges, gaan Ek nou opstaan,” sê die Here. “Ek sal hulle wat daarna smag in veiligheid bring.”

 

Wanneer mense praat, praat hulle oor:

  • hulle eie vermoëns – Danksy ons tong is ons sterk;
  • hulle selfgenoegsaamheid – ons lippe is onder ons beheer; en
  • hulle onafhanklikheid – niemand is ons heer en meester nie. – Daar is geen Here nie.

Hulle dink hulle kan hulle pad na sukses oop praat. Daarom buit hulle mense uit; daarom trap hulle op ander. Al wat die gewone kleinboer van daardie tyd verlang het, was sekuriteit: genoeg om te eet, ‘n plek om sy kop neer te lê en niemand wat hom van sy stukkie grond afdryf nie.

 

Die oneerlikheid van die gegoede mense tref veral die swakkes en behoeftiges. Dit laat die Here optree. Maar wanneer die Here praat, verander die prentjie. Wat laat Hom optree?

  • 6Vanweë die geweld teen die magteloses; en
  • die gesug van die behoeftiges.

Hy laat nooit toe dat oormoedige mense trap op dié wat niemand het om na hulle om te sien nie. Daarom gaan Ek nou opstaan … Ek sal hulle wat daarna smag in veiligheid bring. God is nie onbetrokke nie:

  • Hy maak ‘n einde aan die oormoed van mense wat leef asof hulle in beheer is; en
  • Hy gee uitkoms aan dié wat hulle afhanklikheid van Hom besef.

Interessant van die optrede van God hier is:

  • God wag tot die mens eers diep in nood is – tot sy hoop byna op is – voor Hy toetree. Anders dink die mens hy het homself gehelp.
  • God neem hierdie slegte situasie (vs 2) en skep ‘n nuwe situasie.

 

12:7 – 9: Die betroubaarheid van God se woorde.

7Die Here se woorde is suiwer woorde, silwer wat gelouter is in ‘n smeltoond in die grond, sewe maal gesuiwer.

8U, Here, beskerm hulle; U hou elkeen altyd veilig teen die bose geslag.

9Oral loop goddelose mense rond, terwyl mense se gemeenheid hoogty vier.

 

Mense kan God se belofte glo dat Hy sal ingryp: 7Die Here se woorde is suiwer woorde. Mensewoorde is vals en sonder inhoud; God se woorde is soos silwer wat oor en oor in ‘n oond gesuiwer is. God se woorde is oor en oor getoets en dit het die toets van die tyd deurstaan. Die Here self maak dit waar. Daarom kan ons sy woord aanneem: 8U, Here, beskerm hulle; U hou elkeen altyd veilig teen die bose geslag. God se kinders weet die goddeloses se heerskappy is tydelik – God maak ‘n einde daaraan. As ons aan God se woorde vashou, weet ons ons is veilig. Ons kan Hom op sy woord neem.

 

Volgende keer kyk ons na die teologiese implikasies van hierdie psalm.