Psalm 13 (2)

Blog129

“Everything that is worthwhile in life is scary. Choosing a school, choosing a career, getting married, having kids – all those things are scary. If it is not fearful, it is not worthwhile.” – Paul Tournier

 

Psalm 13 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Teologiese implikasies:

Die psalmis uiter ‘n hartverskeurende uitroep van geestelike dorheid wat nie verklaar word nie. Ek wil nie sterwe nie, mag dui op siekte, maar nie noodwendig nie. Die psalmis is bewus daarvan dat hy God se guns verloor het. Hy is ook bewus van ‘n eindelose debat na binne, van voortdurende kommer en van vyande wat hulle verheug in sy toestand. Hy is bang hy gaan in hierdie geestelike donkerte dood. Baie opregte gelowiges het al sulke seisoene van wanhoop ervaar. Soos die psalmis het hulle dan uitgevind dat om terug te dink aan God se goedheid in die verlede en om te vertrou op sy liefde die antwoord is in hierdie donker tye.

 

Daar is ‘n gevoel dat vertroue ‘n stil, rustige rus in God beteken. Dit sluit alle pogings van ons kant om dinge reg te stel uit. Psalm 13 sê vir ons dat vertroue beteken ‘n onophoudelike reeks vrae aan God. Hierdie vrae vra waarom God ons in ons nood vergeet. Ons moet God dringend vra om aandag aan ons te gee en om ons oë te verlig met ‘n belofte van optrede. Hierdie optrede van God is nie beperk tot die verlede of die eindtyd nie – dit geld ook vir nou.

 

Hoe lank” is die ewige menslike uitroep. Ons dink aan die pensioenaris alleen in haar huis. Niemand kom haar besoek nie. Ons dink aan die boer wat moedeloos na die hemel staar na jare se droogte. Ons dink aan die kinders in Afganistan. Geen wonder dat hierdie mense verskillend kan reageer op die Blye Boodskap nie:

  1. “Julle sê Jesus het 2000 jaar gelde gekom om die wêreld te red. Hoekom het Hy nog niks vir ons gedoen nie?”
  2. “Julle sê Jesus het 2000 jaar gelede gekom in antwoord op die “hoe lank nog-uitroep”. Hoekom het julle Christene ons nog nooit daarvan vertel nie?”

 

Wat sê hierdie psalm vir ons? As ons in nood verkeer, moet ons nie die fout maak om ons daarteen blind te staar nie. Ons moet dit bekyk teen die wyer agtergrond van God se liefdesdade teenoor ons. Dit sal nie ons nood laat verdwyn nie, maar dit sal ons met nuwe oë daarna laat kyk. Dit sal ons laat besef: Hoe groot ons nood ook al mag wees, dit kan nooit so groot wees dat dit ons van God se genade kan afsny nie. As ons dit onthou, sal niks meer net donker lyk nie. Ons sal rede kry om moed te skep en lofliedere te sing – soos die digter van Psalm 13. Gebed is die een manier waarop ons uiting aan ons emosies kan gee en ons probleme met die Here kan bespreek. Hy gee vir ons die regte perspektief en bring weer vrede in ons hart. Die boodskap van Psalm 13 boesem vertroue by ons in: God is getrou; Hy het sy mense lief. Daarom kan ons op sy hulp vertrou.