Psalm 14 (1)

 

Although the stars do not speak, even in being silent they cry out – Johannes Calvyn

 

Psalm 14 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Tema: Die Dwaas.

Hierdie psalm stem feitlik woordeliks ooreen met Psalm 53. Die opvallende verskil is dat die Naam van God verskil. In Psalm 14 word die Verbondsnaam, Here,  gebruik naas die algemene benaming God. In Psalm 53 word die Verbondsnaam, Here, vervang met die algemene benaming wat in Hebreeus ook ‘afgode” kan aandui. Blykbaar was die twee psalms reeds voor die huidige psalmversameling in twee aparte psalmbundels opgeneem – soos die tien gebooie in Eksodus en Deuteronomium opgeneem is. In die tweede bundel – 42 tot 72 – kom die benaming God meer dikwels voor. Toe al die psalms in een bundel opgeneem is, is albei net so opgeneem.

 

Die psalm kan as ‘n geloofstelling beskou word wat mense aanmoedig om te glo dat dwase nie uiteindelik sal wen nie. Hierdie psalm bevat geen pleidooi nie, maar wel ‘n wens aan die einde.

 

Opskrif

 Vir die musiekleier. Van Dawid.

 

14:1: Die goddelose sê daar is geen God nie.

Dwase maak hulleself wys: “Daar is geen God nie.” Hulle tree gruwelik en afstootlik op. Daar is nie een wat goed doen nie.

Volgens die Ou Testament is die dwaas ‘n besondere soort mens. [Die boek Spreuke het baie oor dwase te sê. Daar word ses verskillende woorde vir dwaas gebruik.] Hy het genoeg verstand, maar weier om dit oordeelkundig te gebruik – hy het geen insig nie. Hy weier om te erken dat God se ingrype in die geskiedenis van ‘n volk en in die lewe van ‘n mens in berekening gebring moet word. Vir die digter is iemand wat God se liefde en sorg ontken, die toppunt van dwaasheid. Dwase maak hulleself wys dat daar geen God is, nie net in hulle woorde nie, maar ook in hulle harte.  Dit sê dat ons God in die alledaagse lewe kan ignoreer. Daarom tree hulle gruwelik en afstootlik op.

 

‘n Mens se gesindheid blyk uit wat hy dink (Dwase maak hulleself wys: “Daar is geen God nie.”) of sê of doen (Hulle tree gruwelik en afstootlik op). Hierdie gesindheid word later deel van die dwaas: soos sy naam is, is hy. Hulle vernietig alles; daar is nie een wat goed doen nie. Hulle is so verdorwe dat daar geen uitsondering is nie – nie een doen goed nie. Die digter wil eintlik beklemtoon dat elke goddelose ‘n dwaas in bogenoemde sin van die woord is – die dwaas dink nie net daar is geen God nie, hy tree ook op asof God nie bestaan nie.

 

14:2 – 3: God bevind daar is niemand wat goed doen nie.

2Die Here kyk vanuit die hemel na die mense om te sien of daar iemand is wat verstandig is, iemand wat God soek.

3Almal het afgedwaal, almal het ontaard, daar is nie een wat goed doen nie, nie eers een nie.

God kyk uit die hemel of daar iemand met insig op die wêreld is. Iemand wat verstandig is, iemand wat sedelik en godsdienstig insig het. Dit is iemand wat God soek. Dwase aanvaar hulle is verantwoordelik vir hulle eie bestemmig en welstand in die lewe. Mense met insig besef hulle moet regverdig lewe. Hulle kan dit doen, want hulle weet dat hulle vir God kan soek en kry.

 

Vers 3 herhaal tot ‘n mate wat in vers 1 gesê is. Hier word nog meer klem gelê op die ontaarding van die mens: daar is nie een wat goed doen nie, nie eers een nie. Afdwaal is ‘n ander manier om te sê dat daar geen God is nie. Hulle erken nie vir God en soek Hom nie.

 

Volgende keer kyk ons na die laaste verse van hierdie psalm