Psalm 14 (3)

 

“Religion is the possibility of the removal of every ground of confidence except confidence in God alone.” Karl Barth

 

Psalm 14 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Teologiese Implikasies

In die antieke wêreld was daar baie min mense wat werklik ateïste was – al het hy sy God of gode net deur bygeloof of die bestudering van die sterre geken. Die dwaas dink daar is geen God nie, beteken eintlik dat die dwaas nie dink daar is ‘n God wat persoonlik in ons belangstel nie.

 

Die psalm sê dat ‘n goeie en wyse lewe erken dat God betrokke by die wêreld is. Daarom kyk hulle na Hom vir hulp. Die dwaas ignoreer vir God. Daarom ignoreer hy ook dit wat reg en dit wat verkeerd is. Dwase glo dat God nie by die wêreld betrokke is nie en daarom kan hulle doen wat hulle wil. Dit is dwaas om God  se optrede in die wêreld te ignoreer. As mense optree asof God nie by die wêreld betrokke is nie, is dit ‘n bedreiging vir die magteloses.. Hulle word egter uitgedaag om aan te hou lewe uit die oortuiging dat God aktief in hulle midde is. God se plek in die wêreld is tussen die getroues as hulle swak is en onder druk verkeer.

 

God bestaan nie net nie: Hy is juis daar waar die goddelose Hom die minste verwag – aan die kant van die regverdiges. Die Hebreeuse teks sê letterlik: “Onder die geslag van die regverdiges.” God neem nie net passief waar nie. Hy vereenselwig Hom ook met sy volgelinge se lot. Watter troos bied dit vir ons wanneer dit vir ons lyk asof God nie ingryp om sake reg te stel nie.

 

Daar is werklik min mense wat glo dat daar nie ‘n God is nie. Daar is egter baie mense wat leef asof daar nie ‘n God is nie. Omdat die dwaas nie rekening met God hou nie, spreek dit vanself dat die volgelinge van God nie baie simpatie van hom sal kry nie. Die dwaas onderneem niks positief nie – sy dade is altyd negatief gerig op die regverdiges. Paulus haal uit hierdie psalm aan om te bevestig dat almal gesondig het (Rom 3:11 – 18). Daarom is ons ook almal skuldig. Gelukkig bly die Here die toevlug van almal wat hulle afhanklikheid van Hom besef. Hy is die toevlug vir mense wat besef en beleef dat God leef – dat Hy in hulle woon. Daarom kan ons ook ons lewe volgens sy wil inrig, want daar was een Mens wat volkome goed was. Deur Hom het God getoon dat Hy wel ingryp en dat sy adres by elke gelowige – by elkeen van ons – is.