Psalm 18 (3)

 

Christ is much more powerful to save than Adam was to destroy – Johannes Calvyn

 

Psalm 18 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer, want dit is een van die langste psalms in die Bybel.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

18:8 – 16:

Die Here se reaksie op die psalmis se bedreiging word nou verder beskryf. Die fisiese verskynsels wat hier genoem word, word dikwels in die Bybel gebruik om God se teenwoordigheid en betrokkenheid te beskryf. God was dus betrokke by Dawid se lewe. Hierdie verse beskryf die koms van die Here, maar beskryf Hom nooit nie.

 

Toe het die aarde geskud en geruk; die fondamente van die berge het gebewe.

Die gebeure was aardskuddend – skud, ruk en bewe. Die feit dat die aarde se fondamente geskud het, wys dat hierdie gebeure die stabiliteit van die aarde bedreig het. Fondamente is deel van die aarde se sekuriteit.

 

Dit het geskud, want sy toorn het ontvlam.

9Rook uit sy neus het opgestyg;

Die woord skud word herhaal. Nou word die rede gegee: die Here is kwaad. Dit is wat die aarde laat skud het.

 

‘n Vuur uit sy mond het verteer, gloeiende kole het daaruit gebrand.

Ons sal later sien dit verwys onder andere na weerlig,

 

10Hy het die hemel afgebuig en neergedaal; duisternis was ondere sy voete

Die Here is nog in die hemel. Daar het Hy die psalmis se uitroep gehoor. Maar nou beweeg die Here – Hy buig die hemel af. Hy daal neer. Maar daar was duisternis onder sy voete, want enigeen wat die Here sien, sal nie leef nie. Die duisternis beskerm die mense.

 

11Hy het op ’n gerub gery,Hy het gevlieg, gesweef op die vlerke van die wind

Hoe het die Here neergedaal? Hy ry op ‘n gerub. Die gerubs is aanduidend van die Here se teenwoordigheid.

 

12Hy het donkerte sy beskutting gemaak; rondom Hom was sy skuiling ‘n donker watermassa, ‘n dik laag wolke.

 13Uit die glans voor Hom het sy wolke verby getrek, met hael en gloeiende kole vuur.

Hierdie vers keer terug na die donkerte wat die Here van mense afskerm. Dit beskerm die mense Die Here kan die duisternis deurdring met hael en gloeiende kole.

 

14Die Here laat die donder weerklink in die hemelruim; die Allerhoogste laat sy stem hoor met hael en gloeiende kole vuur.

15Hy stuur sy pyle en jaag hulle uiteen; Hy werp sy weerligstrale en bring hulle in verwarring.

Dit is die psalmis se vyande wat uitmekaar gejaag word.

 

16Die beddings van die strome het sigbaar geword; die fondamente van die aarde is ontbloot vanweë u dreiging, Here, vanweë die windvlaag uit u neus,

Beddings van strome dui gewoonlik op water op aarde en nie water bo die hemel nie. Die ondergrondse waters word blootgestel. Die fondamente van die aarde word ontbloot. Daarmee word die sekuriteit van die aarde bedreig.

 

Ons het nou gesien hoe die Here reageer op die doodsgevaar wat die psalmis bedreig het, Volgende keer kyk ons na hoe die Here verlos.