Psalm 19(2)

image_pdfimage_print

 

Put first things first and we get second things thrown in; Put second things first and we lose both first and second things – C. S. Lewis

 

Psalm 19(2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

 

19:8 – 13: Die wet openbaar die wil van God.

Hier kry ons ‘n skielike oorgang van die natuur na die wet.

 

8Die wet van die Here is volmaak, dit gee nuwe lewenskrag; die bepalings van die Here is betroubaar, dit gee wysheid aan die eenvoudige.

9Die opdragte van die Here is reg, dit maak die hart bly; die gebod van die Here is suiwer, dit verhelder die oë.

10Ontsag vir die Here is reinigend, dit hou vir altyd stand; die beslissings van die Here is waar, heeltemal regverdig.

Die wet van die Here mag na die profete sowel as na die tora verwys. Dit mag ook na die optrede van die Here in Israel verwys. Die onderrig wys vir ons hoe ontsag vir die Here lyk. Ons kry hier ses beskrywings van die onderrig van die Here: volmaak … betroubaar …reg … suiwer … reinigend … waar. Dit is die gevolge van God se onderrig.

 

Maar die psalmis gaan verder.

  • Die Here se opdragte gee nuwe lewenskrag – soos kos vir die honger persoon. Hoe gebeur dit? Dit moedig ‘n lewe van gehoorsaamheid aan. Gehoorsaamheid herstel die lewe en die gevolg is ‘n persoon van integriteit. Dit gee ook wysheid aan die  eenvoudige.
  • Dit maak die hart van die Here bly. Daar is blydskap as ons weet wat God se wil is, want dan kan ons dit doen en God se seën verwag. Dit verhelder die oë. Dit is ‘n teken van bemoediging.
  • Ontsag vir die Here is reinigend en hou vir altyd stand – soos die beloftes van die Here.
  • Die beslissings van die Here is waar, heeltemal regverdig. Die Here maak ferm en definitiewe besluite oor hoe die mens se optrede moet wees en wat die gevolge  sal wees as daarvan afgewyk word.

 

In die Ou Testament is daar nie ‘n woord vir godsdiens nie. Die psalmis se definisie van ware godsdiens is: om voor God te lewe in gehoorsaamheid en met eerbied en nederigheid.

 

11Dit is begeerliker as goud, begeerliker as ‘n oormaat fyngoud; dit is soeter as ‘n heuningkoek wat oorloop.

Nie net goud nie, maar fyngoud; nie net ‘n heuningkoek nie, maar  een wat oorloop. Die Here se opdragte en besluite is so begeerlik soos fyngoud en ‘n heuningkoek wat oorloop. Adam en Eva het gereageer op wat hulle oë as begeerlik gesien het en hulle oë gaan op ‘n slegte manier oop.

 

12Ook die een wat U dien, neem dit ter harte; wanneer ‘n mens daarby hou, is die beloning groot.

Hier lees ons van die psalmis se toewyding in reaksie op God se wet. Deur die waarskuwings ter harte te neem, word mense beskerm teen die donkerte van Goddelike teregwysing in gevalle van sonde.

 

 

image_pdfimage_print