Psalm 21 (1)

 

The blindness of unbelievers in no way detracts from the clearness of the gospel, for the sun is no less respendent because the blind do not perceive it – Johannes Calvyn

 

Psalm 21 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Tema: Maak op God staat en nie op eie krag nie.

Hierdie is soos Psalm 20 ‘n koningspsalm. Hierdie twee psalms is soos twee kante van ‘n muntstuk. Beide hanteer die in mekaar gevlegdheid van die bestemming van die koning en sy onderdane.

Die een is ‘n gebed waarin die psalmis die Here vra om die koning te laat seëvier; die ander is ‘n danklied vir die oorwinning wat reeds behaal is.  Die danklied bestaan uit twee hoofdele:

  • God se mag verseker die koning van ‘n oorwinning.
  • God se mag bring vir die vyand ondergang.

Elkeen het ‘n lang hoofdeel en ‘n kort slot.

 

21: 1: Opskrif.

Vir die musiekleier. ’n Psalm. Van Dawid.

Die spreker in hierdie psalm is die gemeente of ‘n priester wat namens die gemeente praat.

 

2:2 – 8: Die seëninge van die koning.

Die priester verklaar die koning se redes vir danksegging. Implisiet geld dit ook vir sy mense.

 

2Here, die koning is bly oor u beskerming; hoe uitbundig juig hy oor u verlossing.

Hier word melding gemaak van die Here se krag, maar ook van sy verlossing. Krag is nie ‘n eienskap wat die Here net besit nie – dit sou tog nie ‘n rede wees om jou te verheug en te juig nie. Die Here gebruik egter sy krag as Hy optree.

 

Die danksegging kyk terug na die koning se gebed en die Here se antwoord. Hier kry ons stellings wat na die verlede verwys wat afgewissel word met stellings van ‘n voortgaande werklikheid en geloof.

 

3Wat sy hart begeer, het U vir hom gegee en wat sy lippe verlang het U nie geweier nie. Sela.

Wat sy hart begeer het God vir hom gegee. Hart en lippe vul mekaar aan.

 

4Ja, U tree hom tegemoet en seën hom met die goeie; U sit ‘n kroon van fyngoud op sy kop.

Hierdie laat ons dink aan Dawid wat na Hebron of Jerusalem terugkeer na een van sy oorwinnings. Die Here wag nie vir die koning om aan te kom nie, maar gaan hom tegemoet met seën en ‘n kroon van fyngoud. Die Here neem die inisiatief en wag nie vir iemand om aan te kom nie.

 

5Lewe het hy van U gevra en U het dit aan hom gegee, ‘n lang leeftyd, vir altyd en altyd.

6Hy geniet hoë aansien deur die verlossing wat U bring; luister en glansrykheid verleen U aan hom.

Vers 5 keer na die koning se gebed terug. Die versoek vir lewe is vermoedelik ‘n versoek vir veilige verlossing van sy vyande. Die Here se reaksie gaan verder as die versoek. Konings se lewens was maar dikwels baie kort. In konteks hier beteken dit lewe tot die volheid van jou tyd – jou lewe word nie in sy fleur kortgeknip nie. Luister en aansien verwys hier na eer.

 

7Ja, U oorlaai hom vir altyd met seëninge, U maak hom baie bly met u teenwoordigheid.

Die idee dat die Here die koning met oorvloedige seëninge oorlaai, is sodat hy die standaard word waarteen mense seëninge vir hulleself soek. Hy is bly as gevolg van die Here se teenwoordigheid, want seëninge kom as die Here gunstig na ‘n mens kyk.

 

8Omdat die koning vertrou op die Here, op die troue liefde van die Allerhoogste, sal hy nie wankel nie.

Omdat die koning op die Here vertrou, sal hy nie wankel nie. Wankel kan ook ‘n manier wees om na vertroue te verwys – die koning se vertroue sal nie wankel nie. Die koning kan op die Here vertrou, want sy troue liefde inspireer vertroue. Die Here is dus die voorwerp en die instaatsteller van vertroue.

 

Vers 8 word dikwels as die middelpunt van die psalm gesien wat die twee helftes aan mekaar verbind.