Psalm 21 (3)

 

Wherefore it ought to be the first concern of every Christian to lay aside all confidence in works and grow in the knowledge, not of works, but of Christ Jesus, who suffered and rose for Him – Martin Luther

 

Psalm 21 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Teologiese implikasies

Psalm 21 wys vir ons hoe betekenisvol die verlossing van individuele lede van die gemeenskap, veral die leiers, vir God se mense as ‘n geheel is. Kom ons kyk na die logika van hierdie psalm:

  • Die koning ervaar die Here se verlossing van sy vyande (vers 3 – 6).
  • Dit inspireer sy lof en voortgaande vertroue (vers 7 – 8).
  • Dit is ook die basis vir die oortuiging dat die Here almal wat sy goddelike doel dwarsboom, sal oorwin (vers 9 – 13).
  • Die gee aanleiding tot die lof van die mense (vers 14).

 

Om in ‘n leiersposisie te staan, stel ‘n persoon onvermydelik aan gevaar bloot. Terselfdertyd dryf dit die leier na gebed en is dit ‘n geleentheid om God se goedheid te bewys. As die mense van hierdie proses bewus is, gee dit aan hulle die geleentheid om by die leier in sy lofprysing aan te sluit en om uit die leier se ondervining te baat.

 

Onlangse inligting het ons gehelp om die lewe, godsdiens en praktyke van Israel en sy bure beter te verstaan. Dit is duidelik dat sekere psalms bedoel is om by kroningsplegtighede gesing te word. Sommige selfs vir die herkroning van konings op die herdenking van hulle kroning. Ons moet op ‘n paar aspekte let:

  1. Anders as in Egipte word die koning self nie in hierdie psalm aanbid nie.
  2. Die koning verheug hom in die krag van die Here – nie in sy eie krag nie.
  3. God het genade aan die koning in die afgelope jaar bewys en sy gebede beantwoord.
  4. God het op sy diepste behoeftes gereageer; sy innerlike verlange vervul; goed uit sy sondige verlede voortgebring.
  5. God het hom voorafgegaan met goddelike seëninge. Die koning, as mens, reis langs die lewenspad in een rigting – van geboorte tot by sy dood. Dit is die pad van alle mense. Maar nou het God uit die hemel afgebuk en hom ontmoet.
  6. Die koning kroon nie homself nie. Die Here is Koning. Die koning is wel heer oor Israel; hy verteenwoordig die volk. Die Here is ook die Koning van Israel.
  7. Die koning het vir ‘n lang lewe gevra – en boonop liefde ook gekry; hy vra vir lewe en kry die ewige lewe.
  8. God het hom nou bestraal met van sy eie heerlikheid – soos God met Moses gedoen het.
  9. Sy groot beloning was God se nabyheid (vs 7). Al wat die koning moes doen, was om hierdie oorvloedige blydskap te aanvaar, want die koning vertrou op die Here.
  10. Nou word die hele Israel daaraan herinner dat hy ook uitverkies is en dat God hulle seën, want hulle vertrou op die Here. Die Here beskerm die koning en vir Israel – deur die trou van die Allerhoogste.

 

Die psalmis praat direk met die Here. Die psalmis sê dat hy alles wat hy het van God ontvang het. Die koning het vir ‘n oorwinning oor sy vyand gevra – wat U hom gegee het. Deur die oorwinning oor die vyand het die Here sy mag aan die mense geopenbaar. Na ‘n oorwinning het die koning dikwels die kroon van die verslane vyand vir hom gevat en dit op sy kop gesit. Naas die oorwinning en die gepaardgaande roem en eer, het die koning ook nog, soos hy gevra het, ‘n lang lewe gekry. Dit beteken ‘n lewe waarin hy ryklik met aardse besittings geseën is, uit die kloue van die dood gebly het en in gehoorsaamheid aan God se geopenbaarde wil gelewe het – in geloofsvertroue op die Here. Lewensvreugde is net te vinde in die teenwoordigheid van die Here. Blydskap is ‘n teken van bevryding. In vs 8 word gepraat van die koning se reaksie op die Here se seën: hy vertrou op die Here en deur die Here se trou struikel hy nie meer nie.

Hoe raak dit my? As ek my direk met die koning vergelyk, kom ek nêrens nie. In plaas van ‘n oorwinning, het ek dalk onlangs ‘n nederlaag gely. In plaas van vreugde en roem is daar in my lewe dalk net miskenning en pyn. As ek egter raaksien dat dit in hierdie psalm om ‘n driehoeksverhouding gaan, sal ek die rolspelers sien soos hulle waarlik is:

  1. Die Here – dit is niemand minder as die almagtige God nie. Hy hou die lotgevalle van sowel gelowiges as goddeloses in sy hande.
  2. Die koning – is soos enige ander gelowige sondaar wat van God genade ontvang het en deur Hom uit die bose verlos is.
  3. Die vyande – werktuie van die bose wat probeer om God se eiendom aan te val. God verslaan hulle vernietigend.

 

As ek dit raaksien, doen die psalm twee dinge aan my:

  • Dit troos my wanneer ek as gelowige soms moet ly. Dit herinner my dat ek ‘n koningskind is wat in Christus se opstanding reeds deel gekry het aan die grootste oorwinning van alle tye.
  • Dit waarsku my as ek sou waag om God se wil te dwarsboom of my medemens te benadeel. Die Here laat nie met Hom speel nie; Hy duld geen onreg teen dié wat aan Hom behoort nie.